Ommeswaai oor Madonsela se verslag

Speaker Baleka Mbete in die parlement. Foto: GCIS

Speaker Baleka Mbete in die parlement. Foto: GCIS

Baleka Mbete, speaker van die parlement, het haarself Saterdag gedistansieer van ʼn parlementere verklaring dat sy die verslag oor sogenaamde staatskaping aan die openbare beskermer gaan terugstuur.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, se kantoor het in ʼn verklaring gesê Mthembu het Saterdagoggend ʼn gesprek met Mbete gehad rakende die beweerde besluit om die verslag wat adv. Thuli Madonsela aan haar oorhandig het aan die openbare beskermer terug te stuur.

“Die speaker het haarself gedistansieer van die uiters onakkurate mediaverklaring wat die parlement se kommunikasiedienste uitgereik het. Dit gee nie haar mening of haar instruksies aan die parlementere personeel weer nie.”

Mbete het gesê die verslag is “agter slot en grendel” soos versoek en dat die parlement dit so gou as moontlik aan Busisiwe Mkhwebane, die nuwe openbare beskermer, sal oorhandig wanneer sy haar ampstermyn begin.

Mthembu het gesê die ANC is teleurgesteld oor die mediaverklaring wat tot gevolg het dat daar verkeerdelik aangeneem is dat die speaker nie die verslag in ontvangs wou neem nie.

Die parlement het Vrydagaand in ʼn verklaring gesê Mbete het ʼn brief van Madonsela ontvang waarin sy versoek is om die verslag oor beweerde staatskaping te hou totdat die inhoud daarvan bekend gemaak kan word. Volgens die verklaring word Mbete volgens die parlementere reëls verplig om alle dokumente wat vir LP’s se inligting is, in ontvangs te neem om te verseker dat die sake van die Nasionale Vergadering in ʼn oop en deursigtige wyse hanteer word.

Die aanvanklike verklaring het gelui: “Die verslag kan egter nie op dieselfde manier hanteer word nie, en sal dus teruggestuur word na die kantoor van die openbare beskermer.”

Die hooggeregshof het Vrydag gehoor dat Madonsela nie haar verslag gaan bekend maak nie. Adv. Azhar Bham, namens die openbare beskermer, het gesê die verslag is afgehandel, maar dat dit nie bekend gemaak sal word nie “uit respek vir die hof”.

Fourie het ʼn bewaringsbevel uitgereik wat beteken die inhoud van die verslag kan nie bekend gemaak word nie en dat die verslag in veilige bewaring gehou moet word totdat die hof ʼn beslissing kan maak oor die aansoek.

Die EFF, DA, Cope en UDM het Vrydag aangedui dat hulle Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se aansoek om die OB te probeer stuit om haar verslag bekend te maak gaan teenstaan. Die partye het tot ʼn onderhandelde skikking gekom, naamlik die bewaringsbevel, en die saak is tot 1 November uitgestel.

Pres. Jacob Zuma sou Dinsdag ook ’n aansoek om ’n dringende interdik ingedien het om te verhoed dat Madonsela se verslag bekend gemaak kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Alida ·

Sal graag wil weet wat in die verslag is wat hulle so bang maak!

Cherokee ·

Wat beteken ‘veilige bewaring’ deur hulle en hoe weet ons dat daar nie aan gepeuter word voor dit bekend gemaak word nie? Alhoewel Thuli Madonsela sal steeds die oorspronklike hê en verseker dat dit reg gepubliseer word.

Johan Fourie ·

Daai verslag gaan nou voete kry .wegraak ?
Kyk maar dit is nou in die anc se besit,nou gaan hulle hom weer beskerem,weer eens kom hy weg met ryp moord.

Alida ·

Genade mense Thuli is nie so dom nie. Sy het seer sekerlik gesorg dat n paar afskrifte op verskeie plekke bewaar word ingeval iets met haar sou gebeur. Sy weet hoe skelm die ANC is om dit te laat “wegraak”. Ek vertrou haar in daardie opsig. Die verslag moet openbaar gemaak word om die klomp skelms te ontbloot.

humor ·

Hoeveel maal het sulke ommeswaaiery en systappery al plaas gevind. Hulle het maar deurlopend hul duistere werke aan die gang.

Johann Venter ·

Ai tog mense, die verslag is tog sekerlik op ‘n rekenaar getik. Dus: daar is nie slegs ‘n papier weergawe daarvan nie. En die elektroniese weergawe (die rekenaar-weergawe dus) word tog sekerlik beskerm sodat nie enige persoon na willekeur daarmee kan peuter nie.

groenewald ·

Mbete is seker ook in die verslag genoem en daarom wil sy dit nie hou nie. Sy is mos deel v d “maatjies”

Aitoggie ·

Al is dit iewers op n rekenaar, die gedrukte weergawe, sal seker op duistere wyse gesteel word, of die gebou sal seker aan die brand slaan. Mens weet nooit met die mense nie hoor. Ek hoop Madonsela self, sal veilig wees.

Sus ·

Ek kry sommer lag!! Dis soos ‘n hondebol in ‘n bruinpapiersak wat enige oomblik kan vlam vat…..niemand wil dit vat nie maar kan ook nie laat

Nita ·

Ons kan net hoop dat die nuwe OB se karakter so onkreukbaar is as Madonsela s’n is. Anders sien daardie dokument nooit die lig nie. En verdwyn dit tussen neus en ore.

boela ·

Die nuwe OB het klaar gese dit is nie vir haar prioriteit nie. Sy is n Zuma maatjie. Gaan nooit gebeur met nuwe OB nie en dus waarom Madonzela dit so gejaag maar was toe gemuilband.

Alida ·

Daai verslag is veilig glo my. Thuli kan nou daarmee doen net wat sy wil.

Annabel Kamfer ·

Ek het nou nie die voorafgaande gebraaksel gelees nie, maar mark my words, die nuwe ob, en ek skryf dit in klein letters om my respek te bewys, gaan ons lelik in die steek laat. Daar is en was net een Thuli, en nie dat die nuwe een haar skoene hoef te kom volstaan nie, want sy sal anyway nie kan nie, maar as ek lees wat sy se en skryf en die werk gaan benader, sit sy sommer diep in die anc se sak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.