Ommeswaai vir man wat glo hof se vensters breek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Tim Arterbury/Unsplash)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die hofgebou op Vryburg in Noordwes se vensters uitgeslaan het, het Woensdag ʼn skielike ommeswaai gehad nadat hy vroeër die week gesê het dat hy skuld gaan beken op die aanklag teen hom.

Sibongile Dube (35) het Maandag in die einste hof verskyn wat hy na bewering beskadig het en het op dié dag ook aan die hof gesê dat hy nie ʼn regsverteenwoordiger nodig het nie en ook beplan om skuldig te pleit op die aanklag teen hom.

Dube het egter vinnig sy deuntjie verander toe hy Woensdag weer in die Vryburg-landdroshof in Noordwes verskyn het.

“Dube het aan die hof gesê dat hy nie meer skuld gaan beken op sy beweerde oortreding nie,” sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes.

“Hy het ook ʼn regsverteenwoordiger versoek.”

Die hof is tot 25 Januarie verdaag sodat ʼn regsverteenwoordiger aan Dube toegeken kan word.

Hy staan nou tereg op aanklag van opsetlike beskadiging van eiendom nadat hy vroeër vandeesmaand op die toneel van die misdaad betrap en in hegtenis geneem is.

Daar word beweer dat ʼn veiligheidswag gehoor het hoe die vensters van die Vryburg-landdroshof breek en dat hy Dube op heterdaad betrap het.

Dube het Maandag, toe hy nog van plan was om skuld te beken, in die hof gesê sy optrede is deur woede gedryf omdat hy glo in twee afsonderlike gevalle tyd in die tronk moes deurbring. Een van dié vonnisse is volgens hom onregverdig opgelê.

Dube sal in polisieaanhouding bly tot en met sy volgende hofverskyning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Shakespeare ·

Dube is net ‘n pion van die ANC/EFF . Ongelukkig is die regstelsel gekaap om nie die zumaliete en EFF’ers en ANC’ers aan te kla nie.

Marius ·

Hy het seker by sekere mense gesien hoe om die hof te mannipuleer en die saak uit te rek. Hy het reeds erken hy is skuldig en nou trek hy dit weer terug en beweer hy is onskuldig, en die hof akkommodeer hom. Dit is seker ‘n grap of is dit al April?

Kobus ·

Almal wat in die tronk is onskuldig en al die vonnisse is onregverdig. Jy is nie ‘n uitsondering nie. Siestog

Jack ·

Meskien is dit omdat die howe en regstelsel so sleg is dat almal lieg en bedrieg om uit die tronk te bly.Niemand doen meer die eerbare ding en beken skuld as hulle skuldig is nie.

Pieter ·

Baie mooi geleer by ou Zumpies hoe om vertragingstaktiek te gebruik……… want die belastingbetaler betaal mos!

SlinkseKoljander ·

Kyk hoe mooi leer hulle by Zuma! Nee kyk in hierdie land kan jy lieg soos jy wil en weg kom met moord.

Frikkels ·

Hoekom is daar nie ñ verklaring afgeneem toe hy skuld beken het nie? Ek ruik ñ rot….. dit ruik na anc en eff!

JohanR ·

Sal nie verbaas wees as dit Dali Mpofu is nie, maar ek dink hy bekyk eers jou bank staat voordat hy by ‘n saak betrokke raak. Jou bank staat moet soe lyk – R990000

Swerwer ·

Word Sibongile Dube nie net weer gebruik as ‘n politieke pion nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.