Omroeper in die pad gesteek ná uitlatings op lug

JJ Tabane (Foto: JJ Tabane, Twitter)

Die Power FM-omroeper, JJ Tabane, is amptelik deur die radiostasie afgedank.

Dit kom nadat Tabane vroeër vandeesmaand geskors is oor uitlatings wat hy op Twitter en later op sy radioprogram, Power Perspective, gemaak het.

Bob Mabena, stasiebestuurder van Power FM, het in ʼn verklaring gesê Tabane is aanvanklik eers geskors om die bestuur kans te gee om behoorlik oor die saak te dink en die feite na te gaan voordat ʼn finale besluit geneem word. Na aanleiding van die gebeure wat tot Tabane se skorsing gelei het, het die stasie besluit om finaal sy verhouding met Tabane te verbreek.

“Die hoofkwessie is dat mnr. Tabane ernstige wesenlike oortredings van die bepalings van ons onafhanklike kontrakteurooreenkoms begaan het en dat dit onmoontlik geword het om ʼn kontraktuele verhouding met hom te behou,” het Mabena gesê.

“Ons het mnr. Tabane in kennis gestel dat sy ooreenkoms met Power 98.7 met onmiddellike inwerkingtreding beëindig is.” Volgens Mabena sal die nuwe aanbieder van Power Perspective aangekondig word sodra die werwingsprosesse afgehandel is.

Tabane se afdanking kom in die lig van Phumla Williams, waarnemende staatswoordvoerder, se getuienis oor voormalige minister Faith Muthambi voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Williams het getuig dat Muthambi ‘n “skrikbewind” en “marteling” by die departement van regeringskommunikasie en inligtingstelsels (GCIS) gevoer het.

Tabane het hierop gereageer deur op Twitter te skryf: “Faith Muthambi… dit is ʼn rillerverhaal.” Veteraan-beeldpoetser vir verskeie van die ANC se mediaveldtogte, Chris Vick, het hierop reageer en Tabane herinner dat hy tydens Muthambi se beweerde roekeloosheid vir haar gewerk het en dus bewus was van wat gebeur het.

Die volgende dag is Tabane en Vick genooi vir ʼn onderhoud op Power Drive, waar Vick vir Tabane daarvan beskuldig het dat hy niks gedoen het terwyl bestuurders, soos Williams, onderwerp is aan die voormalige minister se “skrikbewind by GCIS” nie. Tabane het op sy beurt volgehou daar was niks verkeerd met die werk wat hy vir Muthambi gedoen het nie en sê sy werk was net om regeringskommunikasie te verbeter.

Die volgende dag het Tabane weer die kwessie tydens sy Power Perspective-program opgehaal deur aan Williams om verskoning te vra en te sê hy is jammer dat hy aandadig was in haar onderdrukking. Hy het gesê hy is bereid om voor die kommissie van staatskaping te gaan getuig oor Muthambi se optrede.

Die stasie het hierdie uitlatings geag as Tabane wat die Power FM-platform gebruik om sy “persoonlike kwessies” uit te sorteer en hy is ʼn week later geskors.

“Mnr. Tabane het die stasiebestuurder verseker dat hy alle feite, wat met die saak verband hou, openbaar gemaak het. Op Woensdag 5 September, sonder enige waarskuwing of goedkeuring van die stasiebestuurder, programbestuurder en uitvoerende regisseur, het mnr. Tabane egter van die programformaat afgewyk en die inleiding tot sy program gebruik vir persoonlike sake, met ʼn verskoning aan me. Phumla Williams vir sy eie gedrag, wat hy toegeskryf het aan sy ambisie en belange en dié van minister Faith Muthambi,” het die stasie in ʼn verduidelik.

“Power 98.7 beskou mnr. JJ Tabane se versuim om die bekentenisse te maak en die gebruik van die program vir persoonlike doeleindes, in ʼn ernstige lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet ·

……..en laaste maar nie die minste nie het hy vergeet hoeveel vriende Faith Muthambi nog het. Om eers te kruip by die ou hierargie en nou by die nuwe een is n kuns wat hy duidelik nog moet leer.

Wessel ·

In artikels en kommentare oor gebeure betreffende die gebruik van swart mense waar die Engelse uitdrukking “to apply his mind”, gebruik word, sien ek die skrywers is deesdae geneig om te sê die persoon “dink daaroor”. Ek glo die meer korrekte uitdrukking in Afrikaans sou wees om te sê hulle/hy “besin daaroor” en wens ons wil eerder hier woorde gebruik.

Wessel ·

Reg Cherokee, mens dink aan iets, soos oor gister se gebeure, dink aan wat kon gebeur het as ek nie weer links gekyk het voor ek die pad oorgesteek het nie, ens. Maar mens besin oor iets voor jy ‘n besluit neem.

Wessel ·

Die woorde “hy dink nog daaroor na” kom as alternatief ook by my op, maar ek glo nog steeds “besin daaroor’ is die meer korrekte.

Cherokee ·

Wessel, lief soos ek is vir ons taal, hou ek van jou besinning daaroor.

Wessel ·

Dankie Cherokee, gaan Google gerus die Op Vlerke facebook, daar is nog.

AttieNo1 ·

Die man is geskok deur wat gebeur het. Veral omdat hy indirek aandadig was en vra dan onverskoning. Stasie skors hom onmiddelik : waar in die wêreld vra mense wat vir die ANC werk of assosieer onverskoning? Ondenkbaar, skokkend, walglik en toe skors hulle hom. Ek wens ons kon die hele ANC skors.

Zumie ·

Voltaire het gese dat as jy wil uitvind wie jou regeer, stel vas wie jy nie mag kritiseer nie….

Liberaal ·

Leer hieruit….moet nooit vir jou waardes opkom nie en luister na liberale massamedia wat om te dink, en moet dit nie bevraagteken nie. Die liberale supperrykes en politieke elite sal jou inlig wat jy moet dink, moet nie self waag dink nie anders is jy jou inkomste kwyt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.