Omroeper se man vasgetrek ná aanval

Dimakatso Ratselane (Foto: Lesedi FM)

Die gewilde LesediFM-omroeper, Dimakatso Ratselane, se man is vasgetrek, ’n dag nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

MacKenzie Ratselane (39) is voortvlugtig sedert sy vrou Woensdagaand vol meswonde in die Dinaweng-nedersetting digby Bloemfontein gevind is. Die polisie het sedertdien onverpoos na hom gesoek. ’n Lasbrief is Maandag vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê ’n span polisielede van die Vrystaat en die blitspatrollie in Soweto het MacKenzie Dinsdag omstreeks 10:30 by ’n huis in Ennerdale in Gauteng opgespoor.

“Hy is in hegtenis geneem en sal eersdaags in die hof verskyn waar hy van poging tot moord aangekla sal word,” sê Makhele.

Maroela Media het vroeër berig Dimakatso en haar man was Woensdagaand van hul huis in Mandela View in Bloemfontein op pad na Phase 2 om hul kinders te gaan haal. Hulle het op pad glo begin stry en by die informele nedersetting Dinaweng uitgekom. Lede van die gemeenskap en vriende het Dimakatso omstreeks middernag bebloed en in ’n kritieke toestand naby Bra-White’s Tavern gevind.

Volgens die voorlopige ondersoek is MacKenzie die laaste persoon wat met Dimakatso kontak gehad het voordat sy hierdie beserings opgedoen het.

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het die ondersoekspan vir hul harde werk en die gemeenskap vir hul hulp bedank.

“Ons is dankbaar vir almal wat gehelp het om seker te maak die verdagte word vasgetrek. Ons sal nie geslagsgeweld in die provinsie duld nie,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.