Omskep Eskom-skuld in aandeelhouding – OBK-hoof

(Argieffoto: ANA)

Die DA het Reuel Khoza, voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), gevra om sy opmerkings oor Eskom terug te trek – of minstens behoorlik te verduidelik – nadat hy aan eNCA gesê het die sukkelende kragvoorsiener se skuld kan in aandeelhouding omskep word.

“Ons het self ʼn voorstel gedoen wat ons glo Eskom uit sy finansiële penarie kan help. Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) en die OBK het gesamentlik staatseffekte van net minder as R200 miljard by Eskom,” het Khoza aan eNCA gesê.

“As ons dit kan bespreek en daaroor kan onderhandel – en as [Eskom] aan sekere voorwaardes voldoen – is dit heeltemal moontlik om daardie staateffekte om te skakel in aandeelhouding.”

Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, sê Khoza moet sy voorstel om R90 miljard hiervan in aandeelhouding te omskep, behoorlik verduidelik – of die stelling terugtrek.

“Ons glo nie daar bestaan só ʼn voorstel nie, minstens nie in enige formele sin wat enigiets meer as praatjies is nie. Tweedens, as daar wél so ʼn voorstel is, sal dit heeltemal onaanvaarbaar en moontlik onwettig wees.”

Hill-Lewis sê Khoza se opmerking is onverantwoordelik en veroorsaak onsekerheid in die markte en vrees onder pensioenarisse.

Hy sê die gedagte om R90 miljard van Eskom se skuld in aandeelhouding te omskep is net ʼn ander manier om te sê die skuld word afgeskryf.

“Die OBK gaan geen hoop hê om die geld weer in te vorder nie. Die regering kan nie bekostig om die aandeelhouding by hom te koop nie en Eskom verdien geen inkomste om die OBK ʼn opbrengs op sy belegging te betaal nie,” sê Hill-Lewis.

Hy sê die besluit is waarskynlik ʼn oortreding van die verpligting op die OBK om te verseker dat hy volhoubare, langtermyn finansiële opbrengs vir die pensioenfonds verskaf.

“Daar is niks volhoubaar in enige belegging in Eskom nie. Dit is nie die GEPF of die OBK se werk om die regering se wanbestuurder van staatsbeheerde ondernemings te subsidieer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Elkeen moet maar sorg dat hy ‘n kragopwekker het.

Burgermeester ·

Die klomp kommuniste word net meer vindingryk om geld te bekom. Enige organisasie wat in ‘n staatsentiteit belê doen so vir politieke gewin, of het geen idee wat rondom hulle aangaan nie. Die OBK beland al hoe meer in die klomp kommuniste se visier. Dit is net ‘n kwessie van tyd, of daai pot gaan ook leeg geskraap word. Ek hoop ek is verkeerd wat dit betref.

Nie Verbaas ·

En daar het julle dit ANC. Verhaal geld van plunderaars en tenders waaraan oorbestee is.

Heinrich ·

Enige oefening om geld in Eskom in te pomp is nutteloos, want dit adresseer slegs die simptoon en nie die oorsaak nie. Tensy ek net op die verkeerde plekke lees, het ek nog niks raakgesien om die korrupte en onbeholpe klomp vas te vat en so die wegsypel van die geld stop te sit voordat nuwe geld in daardie rigting gegooi word nie. Mens prop mos eers die gat in die band voor jy weer op-pomp!

Kerneels ·

Oeeee, die ANC kriewel seker van frustrasie! Hulle sien ‘n hoop goud voor hulle, maar elke keer as hulle hul “grubby little paws” daarna uitsteek, word dit weggeklap. Ons sal moet wakker slaap om op alle fronte te bly keer…

Jacobus ·

En waar op aarde gaan jy aandeelhouding van 90biljoen kry. Selfs die domstes is nou al vuisvoos. Om die staats pensioen fonds te gaan stroop is krimineel. Enige geld in Eskom gaan weer net in die krake verdwyn. Kan al sien hoe die korruptes hulle sweeterige handjies vrywe vir daai meevaller. NEE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.