Omstander help gou toe man by Kleinmond verdrink

Kleinmond. Foto: Stephan Reichert (Creative Commons via Wikimedia Commons)

ʼn Man het Saterdagmiddag omstreeks 14:00 by Kleinmond naby Hermanus in die Wes-Kaap verdrink.

Stephan Malherbe van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hermanus, het gesê die span is om 14:18 ontbied nadat verskeie persone opgemerk het iemand is besig om te verdrink. Die polisie, ER24 en die Wes-Kaapse nooddienste het ook op die oproep reageer.

“ʼn 63-jarige man van Table View in Kaapstad, oorspronklik van Windhoek in Namibië, is deur golwe van die rotse meegesleur en hy het in die see in die moeilikheid beland,” het Malherbe verduidelik.

“Alec Mackenzie (30) van Somerset-Wes, wat in die omgewing was, het van die voorval te hore gekom en het met sy duiktoerusting en ʼn omstander se branderplank in die see in gestorm. Hy het ongeveer 200 meter van die kuslyn af by die man aangekom, wat in hierdie stadium reeds onderstebo in die water gedryf het,” het Malherbe bygevoeg.

Mackenzie het die man op die branderplank gelaai en kon saam met die seestrome bly dryf tot die NSRI se seereddingsvaartuig hulle kon bereik.

“Albei mans is op die boot gelaai en NSRI-paramedici het dadelik met KPR op die 63-jarige man begin. Hy is na ʼn hospitaal geneem en pogings om hom by te bring, het voortgeduur. Alle pogings was egter tevergeefs en hy is in die hospitaal dood verklaar.”

Malherbe het gesê die NSRI betuig sy medelye aan die man se gesin.

Alec Mackenzie word geloof vir sy optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.