Omstrede advokaat is nuwe adjunk-OB  

Adv. Kholeka Gcaleka. (Foto: Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag die nuwe adjunk- Openbare Beskermer aangestel.

Adv. Nompilo Kholeka Gcaleka sal van 1 Februarie dié pos beklee vir die volgende sewe jaar. Haar aanstelling volg nadat adv. Kevin Malunga se termyn verstryk het.

Ramaphosa het Malunga bedank vir sy diens en Gcaleka sterkte toegewens in haar nuwe rol. “Ek is vol vertroue dat sy haar verantwoordelikhede met ywer en toewyding sal uitvoer.”

Gcaleka is ʼn voormalige spesiale raadgewer in die nasionale tesourie en die departemente van binnelandse sake en staatsdiens en administrasie. Sy het ook voorheen gedien as ʼn senior staatsadvokaat en senior adjunkdirekteur van openbare vervolging in die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Sy is ʼn toegelate advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika en ʼn voormalige nasionale voorsitter van die Vereniging van Staatsadvokate van Suid-Afrika. Gcaleka is ook ʼn lid van die Black Lawyers Association.

Die Nasionale Vergadering moes begin Desember te midde van luidrugtige tonele sy besluit oor die aanstel van ’n adjunk‑ Openbare Beskermer uitstel.

Dit nadat Gcaleka, wat deur die ANC ondersteun word, nie verkies kon word nie weens die gebrek aan ’n kworum om haar aanstelling te bekragtig.

’n Vurige debat het die besluit voorafgegaan, met veral die DA en EFF wat sterk teen Gcaleka se benoeming gekant was.

Gcaleka was ’n senior aanklaer in die tyd toe adv. Menzi Simelane die nasionale direkteur van openbare vervolgings was. Sy was bekend as ’n groot ondersteuner van Simelane, wie se aanstelling uiteindelik as ongeldig bevind is.

Gcaleka het daarna vir oudmin. Malusi Gigaba as spesiale adviseur gewerk toe hy minister van finansies en later weer minister van binnelandse sake was, ook in die tyd toe bevind is dat hy meineed gepleeg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Naas ·

Net nog ‘n lojale kader wat die “regte” dinge sal doen.

Kobus ·

Dit blyk dat ons presisdent hom nie veel steur aan enige raad,inligting en of aanbevelings nie.Aanstellings waar daar vraagtekens is behoort mos eers ondersoek word ? Dieselfde met Eskom,daar is vele kundiges wat as raadslede kan dien maar daar word voorkeur gegee aan populistiese aanstellings.So gehoop SR presteer beter as Zumpie,maar dis ook ‘n geval van 6 van die een en half dosyn van ander

Pieter J ·

Hierdie aastelling sê veel van CR se siening van dinge.

Hennie ·

Die afwaartse spiraal raak al hoe styler….. Nog ‘n ignoramus van die cANCer….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.