Omstrede ANC-raadslid se appèl van die hand gewys

Andile Lungisa. Foto: ANA.

Die appèlhof in Bloemfontein het Andile Lungisa, ANC-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, se appèl teen sy skuldigbevinding van die hand gewys.

Lungisa is twee jaar gelede in die Port Elizabeth-landdroshof skuldig bevind op ʼn aanklag van aanranding nadat hy Rayno Kayser, DA-raadslid, met ʼn glasbeker oor die kop geslaan het. Die voorval het tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016 plaasgevind.

Kayser het verskeie snywonde aan sy kop en nek opgedoen en foto’s het gewys hoe hy bloed oral oor hom gehad het. Die vergadering het in sulke erge geweld ontaard dat sommige raadslede berading moes ontvang.

Lungisa is in Mei 2018 tot twee jaar tronkstraf gevonnis, maar het in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) teen die vonnis geappelleer. Lungisa het tydens die verhoor onskuldig gepleit en gesê hy het uit selfverdediging opgetree.

Sy aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis van twee jaar tronkstraf is in die Port Elizabeth-streekhof van die hand gewys. Hangende die uitspraak van sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding, is hy op R10 000 borgtog vrygelaat.

Die appèlhof het in Mei verlede jaar sy verlof tot appèl toegestaan om teen sy skuldigbevinding te appelleer.

Die appèlhof het egter nou beslis dat daar geen gronde vir die hof is om by vonnis in te gryp nie. “Die verhoorhof het Lungisa se persoonlike omstandighede, die aard en erns van sy misdaad asook die belang van die gemeenskap toepaslik gebalanseer om by die vonnis uit te kom,” het die hof bevind.

Volgens die appèlhof het Lungisa ook ʼn gevaarlike wapen gebruik om Kayser mee oor die kop te slaan, wat ernstige beserings tot gevolg gehad het en selfs dodelike nagevolge kon gehad het.

“Hoewel dit sy eerste oortreding is en hy deur die gemeenskap gerespekteer word, is sy misdryf baie ernstig en het dit verwoestende gevolge gehad. Hy het nie opgetree soos wat die gemeenskap van sy raadslede verwag nie. Hy het ook nie verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar nie en het ʼn gebrek aan berou daaroor getoon.”

Die DA in die Oos-Kaap het die appèlhof se besluit verwelkom. “Lungisa moet verantwoordelikheid vat vir sy dade en sy vonnis begin uitdien. Hy moet nie sy tyd mors om nou na die konstitusionele hof te gaan nie,” het Nqaba Bhanga, provinsiale leier van die DA in die Oos-Kaap, gesê.

Maroela Media het vroeër berig bewyse wat aan die hof voorgehou is, sluit in ʼn video wat deur die DA-raadslid Renaldo Gouws geneem is wat wys hoe Lungisa die glasbeker oor Kayser se kop stukkend slaan voordat hy op die vlug slaan en hoe Kayser agteroor val en op die vloer te lande kom.

Landdros Mornay Cannon het met Lungisa se skuldigbevinding in 2018 bevind die video dien as bewys dat daar geen rede was hoekom Lungisa die glasbeker oor Kayser se kop moes breek nie en dat sy verweer dat hy uit selfverdediging opgetree het dus verwerp word. Die hof het ook weer eens bevind dat Lungisa nie ware berou oor sy optrede het nie.

Die ANC het einde Augustus ʼn ultimatum aan Andile Lungisa gestel om as raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro en partylid te bedank of andersins deur skorsing in die gesig gestaar te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Fire hom en laat hy gaan sit! Wat tel vir ons tel vir hulle ook hy’s nie bo die wet nie!

Marius ·

Met so tipe leier gaan ek eerder sonder een . Slefverdediging as die man weg stap van hom af maak net nie vir my lekker sin nie , volgens die video wat destyds bekend gemaak is .

Nie Verbaas ·

Hy sal seker nou n pos as ambassadeur in die buiteland kry.

Jaco ·

Vreemde uitspraak in die lig van die feit dat sy slagoffer ‘n lid van “die rassistiese DA” is. Dis mos wat die ANC maar altyd van die DA sê

Scalla ·

Verstaan die persoon nie dat hy skuldig is nie, dus hoekom howe so vol is en tydsverloop so lank vat, dank hom af en stuur hom tronk toe.

JohanR ·

Het julle al gesien as dit my verkiesing tyd kom hoe die ANC ‘s makaar neuk om op die verkiesings lys te kom. As jy nommer 256 op die lys is, en daar is 256 sitplekke dan is jou lewe vir die volgende 5 jaar verseker met sy vet salaris. Weet nie wat gebeur met nommer 257 en verder af die lys? Gaan hulle maar weer terug na hulle vorige werk van 09h30 to 02h30?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.