Omstrede burgemeester wat VBS-geld ‘onwettig belê’, nou bevorder

‘n Vergadering van die Groter Giyani-munisipaliteit in Limpopo. (Foto: greatergiyani.gov.za)

Die DA is woedend ná ʼn omstrede oudburgemeester, wat vroeër die trekpas gekry het, nou weer as ʼn komiteevoorsitter aangestel is.

Sasavona Mathebula is ʼn voormalige burgemeester van die Groter Giyani-munisipaliteit in Limpopo. Sy is in Desember verlede jaar uit haar pos verwyder nadat sy ʼn sleutelrol in die belegging van sowat R159,2 miljoen in die nou gelikwideerde VBS Mutual Bank gespeel het. Nadat sy as burgemeester afgedank is, is sy tot gewone raadslid gedemoveer.

Hasani Shivambu, ʼn DA-raadslid in die munisipaliteit, het gesê sedertdien is geen tugstappe nog teen Mathebula gedoen nie. “Geen inhegtenisnemings is gedoen om haar of enige ander amptenaar vir die VBS-skandaal verantwoordelik te hou nie,” het Shivambu gesê.

Gister, tydens ʼn raadsvergadering, is aangekondig dat Mathebula verkies is tot voorsitter van die komitee oor paaie en vervoer in die munisipaliteit.

“Die DA het geweldig kapsie gemaak daarteen,” het Shivambu gesê.

Hy het gesê gegewe die swak toestand van brûe en paaie onder die munisipaliteit se beheer, is dit duidelik dat nie veel gaan verbeter nie omdat Mathebula selfs as burgemeester ook niks daaromtrent gedoen het nie.

“Die DA glo sy gaan geen verskil maak in dié portefeulje nie, maar aanhou om die staatskoffers saam met haar kamerade en vriende te plunder, terwyl die inwoners van Giyani voortsukkel.”

Die DA het die huidige burgemeester, Basani Shivambu, reeds gevra om die aanstelling om te keer en met tugstappe teen Mathebula en ander amptenare wat betrek word, te begin.

“Die DA hou vol dat al die amptenare en politici wat by die VBS-skandaal betrek word agter tralies hoort en nie toegelaat mag word om voortaan enige posisie as staatsamptenaar of openbare verteenwoordiger te beklee nie,” het Shivambu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Keelvol

Hoe groter die droogmaak hoe beter die bevordering.
Hulle dink nie hulle doen iets verkeerd nie want daar is geen gevolge vir wandade nie.
Hierdie keer wil ek saam met die DA stem maar ook byvoeg “Wys julle staal en laat iemand aan die pen ry”

aj

Kla die individu aan van diefstal en bedrog van belastingbetalers se geld by die lokale polisie.

Plaas dan druk op die polisie om te vervolg!

Kraaibakke

Wat is sy pos beskrywing nou agbare onderdaan of wat.
Korupsie bly aan orde van die dag net naam verander ,vat net en doen net stilweg ,no one knows.

My Opinie

Dit sal goed wees as die persone wat belasting betaal, insae het in komitees wat aanstellings doen.
Ons sal mense aanstel wat kennis het van o.a. begrotings, werksetiek en waardes.
Dit sal die land opbou en die belastingbetalers laat asem skep.
Hierdie is een voorbeeld van n aanstellings wat nie moes plaasvind nie.

Dereck Le Roux

Deursigtigheid en verantwoordbaarheid is woorde wat net in verkiesings manifeste voorkom en op beleidsdokumente maar in die praktyk en in werklikheid is dit so min werd as diewerd as die papier waarop dit geskryf is.