Omstrede Covid-19-kontrak: ‘Mkhize moet opsy staan’

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag ’n klagte by die Openbare Beskermer (OB) ingedien teen dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, ná afloop van beweerde korrupsie en plundering van openbare geld deur onderskeidelik sy voormalige persoonlike assistent en mediawoordvoerder. Dié organisasie wil hê dat Mkhize opsy moet staan totdat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sy ondersoek oor dié bewerings afgehandel het.

Maroela Media het vroeër berig Mkhize het gesê dat hy en sy departement nie in dié stadium op die bewerings sal reageer nie om sodoende te verseker dat daar nie ingemeng word met die SOE se ondersoek nie.

“Onderhoude is reeds met die betrokke partye gevoer. Daar is ook reeds met verskillende stappe begin om inligting rakende die bewerings bloot te lê. In hierdie stadium kan ons slegs bevestig dat die besluit om die ondersoek deur eksterne entiteite met die nodige kapasiteit te doen, belangrik is aangesien dit ’n paar opvallende ongerymdhede aan die lig gebring het waarop beslis gereageer of opgetree sal moet word,” het Mkhize vroeër bevestig.

Sodra ’n finale verslag beskikbaar word, sal die uitkomste, bevindings en aanbevelings daarvan aan lede van die publiek bekend gemaak word, het Mkhize gesê.

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, moet die ANC die korrupsiepandemie in eie geledere nou daadwerklik begin hokslaan.

“Die ANC moet Mkhize opsy laat staan hangende die uitslag van die ondersoek teen hom. Enigiets minder as dít is verraad teen gemeenskappe wat gebuk gaan onder die uitwerking van die Covid-19-pandemie,” sê Kruger.

“Belastingbetalers is op breekpunt en word daagliks deur berigte van nuwe plundertogte deur ANC-amptenare gekonfronteer. Die ANC-regering besef duidelik steeds nie watter vlakke van frustrasie daar onder belastingbetalers bestaan nie. AfriForum word daagliks oorval deur raadop gemeenskappe wat daadwerklike belastingverset ondersoek.”

Volgens Kruger voorspel hierdie ernstige korrupsiebewerings niks goeds vir die nasionale gesondheidsversekering (NGV) wat die ANC tot elke prys wil probeer deurdruk nie.

“Die plundering van hulpbronne by die eerste geleentheid wat tydens ’n pandemie opduik, is ’n voorspelling van wat verwag kan word wanneer hulpbronne sentraal bestuur word as die NGV verwesenlik sou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Strandloper ·

Dink eerder hy moet weg gaan, ver weg, iewers waar hy hoort soos bv Iraq.

Mallie ·

Al waarvoor hy goed is, is bedrog en onderduimsheid, soos die res van hulle. Kan ons nie ontslae raak van die hele lot nie.

Di ·

Is daar nog enige ANC amptenare oor wat nie korrup is nie? Genade, dit raak nou te erg. Elke week is daar iemand anders in die nuus wat korrupsie gepleeg het.

Ian ·

Die ANC kan nou maar hul naam verander na korrup toe. Almal in hul kaders vergryp hulle aan mag en geld wetend hulle gaan niks oorkom nie.

Anoniem ·

Waar is die entstof waarvoor die regering verlede jaar al R280 000 000-00 aan Covax betaal het?

Nie Verbaas ·

“’n paar opvallende ongerymdhede aan die lig gebring het waarop beslis gereageer of opgetree sal moet word,” het Mkhize vroeër bevestig.” Hoe kan hy so iets kwytraak as hy beskuldig word. Hy verontskuldig homself al klaar terwyl kleiner vissies onder die was gegooi gaan word. Lafhartige kader.

Jack ·

Nou word hy mos as n held van die volk gesien en sal hy net n bonus kry vir al sy bedrog. Die spul is vrot tot in die kern. Wonder net hoeveel miljoen sy bonus gaan wees en dan nog die ster vir uitnemendheid ook. Wonder wanneer kom kopdoek ook aan die beurt.

Dirk Mostert ·

Hoe kan ‘n korrupte minister se uitsprake oor die “pandemie” geglo word?

Jakes ·

Africa”s National Corruption society is eintli wat hierdie party voor staan. Aarde, is daar dan nie eers een van hulle wat eerbaar is nie?

fs ·

Hy moet maar dieselfde paadjie stap as oom Eish….anders word daar mos intern gediskrimineer teen seker outjies… of hoe? Of is hierdie nou ‘n slim plannetjie om oom Eish terug in sy pos te kry so voor die verkiesing…. wat goed is vir een is goed vir die ander ook mos….

Nie Verbaas ·

Die ANC regering gee nie om oor frustrasie van die belastingbetaler nie. Elke individu vir homself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.