Omstrede gaste by OB se verjaardagpartytjie

Adv. Dali Mpofu.

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het wéér die wenkbroue laat lig toe sy verskeie veelbesproke politieke figure by haar 50ste verjaardagviering onthaal het.

Minstens een van hulle staan pens en pootjies in die middel van haar ondersoek na die Gupta-verwante Estina-suiwelplaas naby Vrede in die Oos-Vrystaat.

Daar is veral drie gaste wat reeds groot opspraak verwek het. Die eerste is die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, adv. Dali Mpofu, wat steeds ʼn prominente rol in dié politieke party speel. Die EFF is een van die belangrikste partye wat eersdaags in die parlement moet besluit of sy haar pos moet behou, en is die enigste party wat uitgesproke is in sy oortuiging dat sy wel in haar pos moet aanbly.

Minister Mosebenzi Zwane.

Nóg ʼn omstrede gas by haar partytjie was die voormalige minister van staatsveiligheid in die Zuma-kabinet, adv. Bongani Bongo. Hy is op die oomblik uit op borgtog nadat hy gearresteer is weens sy beweerde poging om adv. Ntuthuzelo Vanara, wat getuienis gelei het tydens die parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom, om te koop. Dit was sodat hy nie moeilike vrae aan Eskom sal stel tydens die ondersoek nie.

Hardnekkige gerugte bly kop uitsteek dat Mkhwebane in ʼn stadium betalings van die Staatsekerheidsagentskap ontvang het. Sy ontken dit, en is tans uitgesproke oor haar ontevredenheid dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) haar inkomste oudit, soos hulle jaarliks met baie Suid-Afrikaners doen.

Die mees omstrede politikus wat glo Mkhwebane se partytjie bygewoon het, is die voormalige minister van minerale hulpbronne in die Zuma-kabinet, Mosebenzi Zwane.

Hy was Vrystaatse LUR vir landbou in die provinsiale kabinet van die eertydse premier Ace Magashule toe groot bedrae staatsgeld van die Gupta-verwante Estina-suiwelplaas gekanaliseer is na die omstrede Gupta-troue by Sun City.

Wat onmiddellike vrae oor ʼn botsing van belange laat ontstaan, is dat Mkhwebane tans besig is met ʼn ondersoek na die hele Estina-debakel; ʼn ondersoek waarvan Zwane ʼn hoeksteen vorm.

In reaksie hierop het die DA-hoofsweep Natasha Mazzone gesê ʼn onmiddellike amptelike ondersoek is noodsaaklik. “Dit trek nogmaals Mkhwebane se bewerings dat sy die Grondwet gelees én verstaan het in twyfel as sy nie eens die basiese konsep van die botsing van belange kan insien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Ag wat sal ons sê, sy berei hulle net voor vir die nuwe poste waarin hulle aangestel gaan word

marius ·

Die hele spul in belangrike poste rol in die semels . Sonder uitsondering .

Nie Verbaas ·

Dis maar swaar as n mens nie eers die vermoe het om aan nagevolge te dink nie. Sy glo nog steeds sy is onaantasbaar. Selfs nadat haar onvermoe al op verskeie geleenthede openbaar gemaak is.

Smurf ·

Sy het heel duidelik “ander” planne met die “party’….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.