Omstrede hoof van Eskom bedank

Matshela Koko (ANA File Photo)

Matshela Koko, Eskom se omstrede uitvoerende hoof van kragopwekking, het met onmiddellik effek bedank.

Koko het gesê dit is in sy en sy gesin se beste belang dat hy bedank en dat hy dit doen sonder enige erkenning dat hy iets verkeerd gedoen het.

Koko is op 31 Januarie weer deur Eskom geskors. “Ek het vanaand bevestiging van my skorsing by Eskom ontvang. Ek is met nuwe aanklagte gedien. Ek verwelkom die ontwikkelinge en sien weer uit daarna om my naam in ʼn verhoor skoon te maak,” het Koko destyds op Twitter gesê.

Volgens berigte is Koko deur Eskom daarvan beskuldig dat hy glo die parlement mislei het, dat hy vertroulike dokumente versprei het, en dat hy Eskom se gedragskode en sy verantwoordelikhede as uitvoerende hoof oortree het.

Eskom het Koko verlede maand weer aangestel ná ʼn tugverhoor hom van enige oortredings vrygespreek het.

Die parlementêre ondersoekkomitee na Eskom het verlede maand getuienis van Koko aangehoor. Hy het ontken dat hy onwettige onderhandelings met die Gupta-familie gehad het. Daar word beweer die Gupta-familie het miljarde rande gemaak uit kontrakte wat gefasiliteer is deur topbeamptes by maatskappye in staatsbesit.

Koko is in Augustus 2017 die eerste keer geskors. Hy het glo toe die voorwaardes van sy skorsing oortree deur gereeld Eskom-werknemers te kontak, ondanks sy skorsingsbrief wat dit duidelik stel dat kontak met Eskom-werknemers sy dissiplinêre verhoor kan benadeel.

Hy het tereggestaan op ses aanklagte, na bewering die versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat ʼn maatskappy, Impulse International, ʼn tender van R1 miljard bekom het. Koko en sy stiefdogter besit aandele in die maatskappy en die tender is toegeken deur ʼn afdeling waarvan hy die hoof was, voor hy as waarnemende uitvoerende hoof aangestel is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

zoom zoom ·

Seker het hy ‘n job in dubai gekry saam met zuma se seun en die eerbare guptas. Ek pik sommer ‘n traan soos sy boetie molefie

neels ·

Nog een wat “vrywillig ” die pad vat. Kyk maar in die volgende weke en maande hoeveel gaan nog by al die korrupte staatsinstellings bedank voordat die blik se deksel afgehaal word. Die beskermheer is nie meer daar nie en die opdraggewers is vermoedelik land uit.

Ben ·

Groot “genip” gaan op!!!!
Mooi man – maar hoop hy word steeds vervolg.

SjN ·

Ek sal ook vrywillig bedank as ek reeds R1 miljard geskuif het na n ander rekening waarin ek belang het. Vervolg hom.

Alida ·

Bedank gaan nie help nie. Een of ander tyd sal hy “face the music”.

Alida ·

Sal dit nie n heugelike dag wees as die hele lot JZ, die Guptas en al die korrupte ouens in n ry soos eende by die tronk inmarsjeer nie. Almal in oranje geklee! ALMAL van hulle.

Z ·

Baie slim oplossing van probleme. Bedank, dan kry jy steeds jou pensioen en ander voordele. Net soos JZ. En ons moet vir dit betaal.

Jacques Venter ·

Do not ask for whom the bell tols. It tols for thee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.