Omstrede KZN-sakeman oor ‘korrupsie’ vervolg

Thoshan Panday. Foto: http://www.pandagroupsa.com/

Thoshan Panday. Foto: http://www.pandagroupsa.com/

Thoshan Panday, die omstrede sakeman wat noue bande het met lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, die geskorste KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, sal vir beweerde korrupsie vervolg word.

Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, het Vrydag aangekondig Panday en kol. Navin Madhoe sal vervolg word.

“Die aanklagte hou verband met ʼn voorval waarin die voormalige KZN-hoof van die Valke, genl. Johan Booysen, meer as R1 miljoen aangebied is om die datum van ʼn verslag oor die ondersoek na onreëlmatighede in die verkrygingsprosesse ten opsigte van akkommodasie tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 te vervroeg,” het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in ʼn verklaring gesê.

“Kol. Madhoe wou gehad het genl. Booysen moet die datum op die verslag vervroeg, sodat dit as nie-toelaatbaar beskou word in die litigasieproses wat sou volg.”

Ngobeni is in Augustus geskors na bewerings van korrupte sake-ooreenkomste met Panday aan die lig gekom het. Volgens die bewerings het Panday vir Ngobeni se man se uitspattige verjaardagpartytjie betaal. Sy het na bewering ook die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal opdrag gegee om ʼn ondersoek na Panday se beweerde betrokkenheid by die R60 miljoen-akkommodasietender vir die polisie te beëindig.

Ngobeni beweer sy het Panday terugbetaal vir die partytjie en ontken sy het ingemeng met die ondersoek teen hom, wat deur Booysen gelei is.

“Die beskuldigde en hul regsverteenwoordigers is reeds van die NVG se besluit ingelig. Hulle sal in die Durban-streekhof verskyn op ʼn datum waarop die direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal en die regsverteenwoordigers sal ooreenkom,” het die NVG gesê.

Abrahams het ook kapt. Aswin Narainpershad, Madhoe en Panday versoek om voorleggings aan die NVG te maak in verband met die beweerde akkommodasietenderbedrog. Die NVG het besluit om nie die drie oor die beweerde onreëlmatighede te vervolg nie.

Die voorleggings moet teen 16 September aan die NVG gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rapes ·

Sy het die rang van Lt. Genl. ontvang as hoof van die grootste bende nl. die S .A.P.D. Die sogenaamde werstoepassers is die grootste kriminele en die regering stel die voorbeeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.