Omstrede minimumloonwetsontwerpe goedgekeur

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Drie omstrede wetsontwerpe wat ‘n nasionale minimumloon in Suid-Afrika sal verseker, is Dinsdag in die nasionale vergadering goedgekeur.

Die parlement het ook arbeidswetgewing goedgekeur wat bepaal dat vakbonde ‘n geheime stemmery moet hou voor enige besluite oor ‘n staking geneem word.

Die Nasionale Minimumloon-wetsontwerp, wat bepaal dat die minimumloon R3 500 per maand of R20 per uur beloop (plaasarbeiders en huishulpe uitgesluit), is deur die meerderheid LP’s goedgekeur met 202 stemme, hoofsaaklik ANC-LP’s.

LP’s van die DA, wat die sterkste teen die wetsontwerp gekant was, het uitgeloop voor die stemmery begin het. Altesaam 16 LP’s het teen die wetsontwerp gestem.

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Diensvoorwaardes, wat die minimumloon bepaal, is met dieselfde getal stemme goedgekeur.

Die Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge is ook goedgekeur. Indien die president dit as ‘n wet onderteken, sal vakbonde ‘n geheime stemmery moet hou voor enige besluite oor ‘n staking geneem mag word. Die regering het gesê die doel van dié wet is om die getal uitgerekte, gewelddadige stakings wat verskeie bedrywighede teister, te voorkom.

Intussen het Anton Alberts, woordvoerder vir die VF Plus, gesê die beplande instelling van ʼn minimumloon in Suid-Afrika is ʼn erkenning van die ANC-regering dat hy klaaglik misluk het om die land se ekonomie voldoende te laat groei om armoede en werkloosheid uit te roei.

“Weens die hoë vlakke van armoede in die land is daar groot empatie met miljoene mense wat benede die broodlyn leef, en dit sou onmenslik wees om jou blind te staar teen dié lyding van werkloses, vroue, kinders en diere. Die daaglikse betogings reg oor die land is simptomaties van hierdie haglike situasie,” het Alberts gesê.

“Hierdie lyding van mens en dier moet voor die deur van die ANC-regering gelê word. Indien hy in sy tyd as regering ʼn klimaat geskep het vir jaarlikse ekonomiese groei van sowat 6%, sou miljoene werkgeleenthede geskep gewees het en sou die situasie tans anders daar uitgesien het.

“Die skade wat die ANC-regering se beleid aan die land se ekonomie aangerig het, is omvangryk. Talle werkskeppingsgeleenthede het verlore gegaan en baie waarde is vernietig deur ondernemings wat eenvoudig hul deure gesluit het en beleggers wat hul geld elders gaan belê het.”

Alberts het gewaarsku tydens die openbare verhore oor die Beleggersbeskermingswet, het die Amerikaanse Handelskamer aangedui dié wet sal verhinder dat biljoene dollar Suid-Afrika binnestroom. “Die ANC-regering het nogtans die wet deur-gestoomroller en vandag is dit bekend dat Suid-Afrika se handelsbalans negatief is met min buitelandse belegging. Die VF Plus is daarom skepties oor president Cyril Ramaphosa se poging om beleggings van ʼn $100 miljard na Suid-Afrika te lok. Hoe gaan hy dit regkry met beleid waaroor talle internasionale handelsvennote groot bekommernis uitgespreek het, soos SEB, hoë belasting en onteiening sonder vergoeding?”

Alberts voeg by talle probleme wat te make het met ongelykheid sal opgelos word indien groter ekonomiese vryheid toegelaat word. “‘n Goeie voorbeeld is die ongekende ekonomiese groei wat Amerika tans ervaar waar maatskappywinste 22% beter is as verlede jaar en beleggings gestyg het met 19%. Die rede daarvoor is die nuwe administrasie se laer belastingkoers en deregulasie. ʼn Minimumloon mag daarom edel klink, maar dit sal die probleem van ongelyk eerder vererger as verbeter. Daar sal dringend na maniere gesoek moet word om die ekonomie te laat groei om te sorg vir werkloses wie se getalle ongetwyfeld aangevul sal word deur ʼn minimumloon.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Netso ·

Draai solank die “egg-timer” vir die volgende “demanding” bedrag om asb?

jaco ·

Ek kan nog verstaan dat hierdie patetiese minimum loon op wit mense toegepas kan word as “straf” vir apartheid, maar die wet wat die lae minimum loon bepaal, sê NIKS van ras nie. Dis dus ook van toepassing op arm swart rasgenote van die ryk swart amptenare en ministers wat die wet geskryf het. Iets maak dus nie sin nie. Hoe kan hulle dan so swak sorg vir hulle eie mense?

Elda Brewer ·

Kom ons wees nou eerlik, R3500 p/m is niks om van te lewe. G’n mens kan daarmee ‘n redelike bestaan voer nie.

Hierdie wet beteken dus ook dat blanke werkgewers hul blanke werknemers die minimum sal betaal. Dit is van toepassing op alle rasse. Wat n skande.

Vryheid ·

Cyril het tot dusver niks belegging van die buiteland gelok na SA nie. Die anc weet nie hoe om op te bou uit te brei en te bele nie. Armoede gaan net groei in die land, die min loon gaan dit nie keer nie.

Martie ·

Wat is die minimum loon op die oomblik vir n HUISWERKER op n plaas en vir n PLAASWERKER? wil net seker maak dat ek nog binne d wet is.

Judge Dredd ·

Dagse Martie
Huiswerker 75% van R20 = R15/uur.
Plaaswerker 90% van R20 = R18/uur.

Harry ·

Die nuwe minimum lone, grond/eiendomskwessie, BEE vereistes, politieke onrus/geweld, korrupsie, massiewe finansiele skuld, stygende werkloosheid/lae ekonomiese groei, hoogste moord/verkragtingsyfers, buitensporige diskriminasie teen blankes/buitelanders skep ‘n skrikwekkende lelike prentjie vir enige buitelandse belegger – selfs bestaande beleggers skaal eerder af om verdere risiko’s te vermy. Die regering smeer net heuning om die monde van hul kiesers ten einde volgende jaar se verkiesing weer te wen, maar ten koste van ‘n goeie ekonomie en beter omstandighede vir almal. Dis ‘n resep vir ‘n ekonomiese ramp met hongersnood en oorlog net om die draai!

Vlam ·

Ek stem saam laat hulle die lone wil verander, maar wat van die arme pensionarisse se geld.
Ek sien daagliks hoe ou mensies goed terug sit omdat hulle dit net nie kan bekostig of, kan hulle geld dan nie ook verander word na die minimum lone se bedrag toe nie

Maria ·

Staatwerkers moet ook net n min loon ontvang soos almal en met jare diens meer en meer kry…so ook moet daardie manne in die parliament ook net min loon kry…hul lewe in weelde en die publiek moet wonder waar môre se kos vanaan kom …hul is publiek dienaars so hul werk vir die publiek en is aangestel deur die publiek maar nou maak hul nes hul wil en bepaal selfs hul sakarisse … die publiek het n sê oor dit nie hul nie en so ook hul kan gerus leef by en met die wette wat hul self maak …want dis ook nie reg nie die publiek moet daardie segenskap ook besit …nou sit hul daar soos konings mense wat nederig moet wees en ware leiers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.