Omstrede NGV-plan: ANC tree irrasioneel, onverantwoordelik op

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Solidariteit het Vrydag die aanvaarding van die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-plan deur die kabinet ten sterkste veroordeel en gesê dat die regering duidelik net ʼn ideologiese oorwinning wil behaal al is dit ten koste van Suid-Afrikaners se lewens.

Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), voer aan dat die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se uitlatings dat die tyd vir gesprekke, ontleding en diagnose verby is en dat ons met implementering moet voortgaan, onverantwoordelik is en dat die NGV afstuur op ʼn ramp. “Ek kan verstaan hoekom die minister sou wou hê dat ons moet ophou ontleed, want elke ekonomiese ontleding, elke mislukte loodsprojek en gesprek ontbloot net verdere gebreke wat die stelsel sal kniehalter, en verder dui dit ook daarop dat die NGV bloot nie lewensvatbaar is nie.”

Solidariteit benadruk dat die NGV nie bloot ʼn onvoldoende stap in die regte rigting is nie; dit verteenwoordig veel eerder ʼn drastiese en daadwerklike stap in die verkeerde rigting. “Daar kan op die status quo verbeter word, maar selfs die huidige toedrag van sake sal vir die meeste Suid-Afrikaners meer wenslik wees as ʼn monopolisering van gesondheid in die hande van die staat,” verduidelik Malan.

Solidariteit maak ook sy skeptisisme bekend rondom die gewysigde weergawe van die wetsontwerp en betwyfel die regering se bereidwilligheid om enige van die uiters skadelike aspekte van die aanvanklike wetsontwerp te beken. “As ʼn mens kyk na die terugvoer wat uit soveel oorde ontvang is – vanaf die tesourie, die breër sakesektor (soos banke, versekeringsmaatskappye, die Kamer van Koophandel, mynhuise, ouditeursfirmas, en selfs vanaf mediese skemas en administrateurs), die farmaseutiese bedryf, privaat hospitaalgroepe, asook georganiseerde arbeid en vanaf verskeie dinkstigtings onder talle ander, dan kon ʼn mens beswaarlik nie by enige ander gevolgtrekking uitkom as dat ʼn totale hersiening of verwerping van die voorstel nodig is nie. Daar is feitlik geen kans dat hierdie weergawe ʼn wesenlike verbetering bied nie. Ons sien dit ook in die regering se ongeneentheid om met redelike ontleding in gesprek te tree en eerder voort te druk met die wetsontwerp, ongeag die gevolge vir gewone Suid-Afrikaners,” het Malan bygevoeg.

Philip van Staden, woordvoerder oor gesondheid van die VF Plus, het op sy beurt gesê Suid-Afrika se gesondheidsdiens is in ʼn moeras – nie weens ʼn tekort aan geld nie, maar weens wanbestuur, korrupsie en onkundigheid. “Nou verwag die regering dat dieselfde amptenare wat vir dié chaos verantwoordelik is, sy grandiose NGV moet bedryf. Dit spreek vanself dat dit gedoem is tot mislukking.”

Die minister sê net 16% van alle Suid-Afrikaners het toegang tot die huidige gesondheidstelsel. “Tog lê die staatsgesondheidsdiens se voetspore tot in die verste uithoeke van die land. Dit is dus duidelik dat die probleem by dienslewering lê; by die mense wat die diens moet bedryf. En hierin misluk die ANC op skouspelagtige wyse.”

Van Staden meen een van die hoofredes vir die mislukking is die regering se obsessie met transformasie. “Die ANC transformeer alles in die land die afgrond in. Voordat die huidige stelsel dus nie behoorlik bestuur kan word nie, is enige van droom van ʼn ander stelsel gedoem nog voordat dit begin. Die NGV-plan moet so gou doenlik geskrap word. Dit is nog ʼn ramp in wording en sal geen verbetering bring by hospitale of klinieke nie.”

In die eerste plek sal ʼn gebrek aan verpleegpersoneel die NGV onmoontlik maak. Volgens die vakbond Solidariteit het 8 535 minder verpleegkundiges sedert 2013 die arbeidsmag betree en gekwalifiseerde verpleegpersoneel het sedert 2013 met 40% afgeneem.

Dit is te wyte aan swaar werkslading, lang ure, moeilike omstandighede by die werksplek, ʼn gebrek aan ondersteuning en toerusting en ʼn tekort aan geld.

“Die situasie op grondvlak in die land se hospitale en klinieke is skokkend,” het Van Staden gesê. “Sekuriteit is so swak dat verpleegsters, dokters, studente en pasiënte aangerand en selfs verkrag word en pasiënte sterf in vreemde omstandighede. Selfs iemand met ʼn gebreekte been wat opgeneem word, is nie seker of hy die hospitaal lewend gaan verlaat nie.”

In die tydperk van 2010 tot 2015 het die Gautengse gesondheidsdepartement skikkingsbedrae van sowat R540 miljoen betaal weens nalatigheid. Tans is R1 miljard se regseise teen die departement hangende. Esidimeni het plaasgevind weens swak bestuur.

“Tog, soos in ander gevalle van bedrog en korrupsie in die land, is daar geen gevolge nie. Daar is gereeld stakings by staatshospitale weens loongeskille en hospitale en klinieke gaan gebuk onder ʼn tekort aan medisyne. Kankerpasiënte kry Panado’s vir pyn aangesien voorgeskrewe middels nie beskikbaar is nie. Daar mag nie langer toegelaat word dat hospitale as slagpale en lykshuise bedryf word nie. Die minister sal daadwerklik moet ingryp om die land se gesondheidsdiens red. Intussen moet vergeet word van die NGV. Onder die ANC sal dit nie werk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hanna Hoekom ·

As n kwalifiseerde, spesialis verpleegkundige sal ek onder geen omstandighede in daardie stelsel wil werk nie. Jare in die staatshospitale het sy tol geeis… Privaat hospitale was darem in n mate n verligting. Sien, ek is een van daardie verpleegsters wat nog n PASSIE vir my beroep het. Ek wil my beste kan lewer, n verskil maak! My hart gaan uit aan my ouer kollegas wat nie meer n skuif oorsee kan maak nie.

Jean-Pierre ·

Wat volgende by 2030, aftree ouderdom eers op 67 jaar oud?

Die staat se doel met die NGV plan, werkende mense lewe gesonder dus langer wat beteken mense moet langer werk omdat hulle langer lewer sodat hulle meer kan spaar vir hulle pension periode en dus nie afhanklik is van die staat se sosiale sekerheid nie.

Dus twee vliege met een klap. Meer kapitaal vir die staat via persoonlike belastings inkomste van mense wat langer werk en ‘n korter pension periode wat beteken minder druk op die sosiale sekerheid.

Kallie ·

Maar daar is nie genoeg werk nie. Oues moet plek maak vir jong werkers.

Dries du Toit ·

Die groot trek van die beste dokters in die wereld gaan nou spoedig plaasvind. Ek weet van n hele paar hoogsgekwalifiseerde dokters wat reg maak om te immigreer. Daar is alreeds n tekort aan goeie spesialiste

Irma ·

Moontlik is my gevoel verkeerd . As hulle egter die enigste bestaande gesondheidsorg, waarvoor ons terloops baie duur betaal, deur die ANC regering gekaap word dmv wetgewing, gee hulle die mense wat die stelsel tot hier gebring het geleentheid om by die swak staatshospitale te gaan sit. Maak nie saak wat nie hulle moet ons in die gtond in trap en dis na my mening nog so ‘n voorbeeld.

fred ·

die onbekwame anc kommuniste wil als nasionaliseer om aan die mag te bly ,nou skep hulle nog n groot olifant wat hulle nie kan bestuur nie….weer n bodemloos gat waarin biljoene in gaan verdwyn….hulle sal nooit leer…en dan verwag hulle dat die privaat sektor moet investeer…..

HPV ·

Die ANC is soos ‘n graad 1 speelgroepie tydens ‘n kinderpartytjie, hulle het al hul speelgoed uit die kot gegooi en gebreek, nou skree hulle moord om die ander kinders se speelgoed ook te breek! SABC, SAL, DENEL, ESKOM, alles gebreek, gaan hulle nooit leer nie?

George in Bloem ·

Nog ‘n fyn beplande korrupte sisteem wat in plek gestel gaan word waar kaders met miljoen gaan wegstap en die arme vuisvoos belastingbetaler gaan pa staan vir die vet rekening.Die gravy train gaan sommer weer lekker spoed optel.Viva man.

Johanna Botha ·

So val alles stuk vir stuk uitmekaar agv die domste mense wat die land probeer regeer

Kallie ·

Dit wys jou wat is die kwaliteit en denkvermoë van die kiesers. Churchill het by geleentheid gesê ‘n nasie verdien sy politieke leiers.

Jaco ·

Ek maak reg om hierdie nes te verlaat, as ek weet dat ek eendag moontlik in n derde rangse Afrika hospitaal moet bid om verligting weens die haaglikheid en ellende terwyl ek of my gesin moontlik siek sonder kwaliteit versorging is dan weet ek dit is tyd om te gaan. My eens pragtige Suid Afrika met sy mooie mense en met n geskiedkundige lewensgehalte wat die Yanks en Britte groen gehad het van jaloesie, is nou afgebreek tot n hopie as. Waar is die wigte en die teenwigte nou, vrae ek met trane in my oë!!

Andreas ·

Ons moet nie vergeet nie, als in die land word nie verniet afgebreek en gereduseer tot op ‘n sekere vlak nie. 15 Miljoen van die mense ontvang regerings-toelaes, hoeveel miljoene is nie ongeletterd nie, dis daardie mense wat hulle ook wil bereik met die NGV, al breek hulle wat tot dusver tot stand gekom het tot in die grond af, is daardie mense, die grootste klomp en armstes van die armes beter daaraan toe as wat hulle was, hul stemvee. Die kruks van die storie is, die fonteintjie gaan opdroog, maar dit is ‘n probleem vir ‘n volgende dag.

Gert van Wierdapark ·

Die woord “Verantwoordelik” bestaan nie in die a en see se woorde skat nie! Hul kwalifiseer wel as die verantwoordelikes wat SA in die grond in gestuur het, nie bestuur het nie want daarvoor het jy ‘n lisensie nodig!!!

Carl Jordaan ·

Gaan die huidige wanfunsionele stelsel net duurder word? Gaan Suid Afrikaners gedwing word om deel te wees van so n oorlaaide stelsel? Het die huidige onbekostigbare privaat stelsel, nie die staat gedwing om so n koers in te slaan nie? Dit is so dat privaat mediese dienste buite bereik van meeste Suid Afrikaners geword het. Die kern van die probleem is die onbekostigbaarheid. Selfs mediese skemas het onbekostigbaar geword en het so n swak dekking dat “gap” dekking nodig is. Erens moet iets begin ingee.

Andreas ·

Hoe ander plan maak? Hulle moet weer gaan dink, betrek die privaat sektor met planne, maar nee hulle wil als self beheer soos die ekonomie, sosialisme, hulle wil ‘n eie superstad bou. Die vrees is dat dit ons voorland gaan wees dat eerstewêreld mediese dienste en geriewe, in derdewêreld dienste gaan verval, soos wat nou met staatshospitale besig is om te gebeur, en dit gaan nie beter raak nie. Nog medici gaan landuit beter heenkome soek. Ek wil ook goedkoper betaal, maar afbreek is nie die antwoord nie.

Dr Pieter Loubser ·

Ek praktiseer al 46 jaar. Ondanks baie stoei, hou ek van wat ek doen. Ek wens ek kon aan die regtig nodige probleme gratis diens gelewer het. Ek kan dit nie bekostig nie. Ek verdien tans heelwat minder as ‘n paar jare gelede. Ek is 70 jaar oud. Ek weier om in ‘n onpraktiese ondeurdagte sisteem deel te neem. Die ekonomiese omstandighede in SA, tans, ge my genoeg rede tot erge kommer en die sosialistiese denke van die ANC is ‘n groeter bron van kommer. Hulle stel ideale maar het geen benul van hoe om dit te bereik nie en gee nie ‘n duiwel om nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.