Omstrede onderwyswet aanvaar

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die omstrede Wysigingswetsontwerp oor Hoër Onderwys wat onder skoot gekom het oor die magte wat dit Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gee, is in die parlement ingestem.

Die wetsontwerp bepaal onder meer vaste transformasiedoelwitte en oorsigmeganismes, strenger oorsig oor die besteding van regeringsubsidies aan universiteite en gee die minister groter magte om in te gryp by onderpresterende universiteite. Dit het kommer laat ontstaan oor die invloed op institusionele outonomie en akademiese vryheid.

Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys, meen egter dit is nie die doel van die wysigingswetsontwerp nie. “Al wat ons probeer doen is om verantwoording te versterk en vroeë waarskuwingstelsels in te stel om tekens van wankelrige bestuur raak te sien.”

Belinda Bozzoli, DA-LP, het gesê haar party is gekant teen verskeie klousules in die wysigingswetsontwerp, veral dié wat die minister wyer magte gee om in te gryp in die sake van universiteite.

“Die nuwe wetsontwerp het ʼn klousule wat beteken dat die minister nou net ʼn rede nodig het om te glo dat ingryping nodig is, eerder as konkrete bewyse. Dit sal al makliker word om universiteite se onafhanklikheid op te skort, en al moeiliker om so ʼn besluit in die hof te bevraagteken,” het Bozzoli gesê.

Die Vryheidsfront Plus het ook die wet gekap. “Die doel van die Wysigingswetsontwerp op Hoër Onderwys is daarop gemik om magte van hoër onderwysinstellings weg te neem en aan die minister oor te dra, wat hom in staat sal stel om sy transformasie-planne uit te voer en stelsels in te voer om sy eie agenda te bevorder,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys, gesê.

“Transformasie is die kodewoord vir totale sentralisering van mag en die vernietiging van diversiteit op die pad na die verwesenliking van ʼn kommunistiese staat en hierdie wetsontwerp is een van die instrumente wat vir dié doel gebruik word. Die minister en die ANC moet egter besef dat die VF Plus verstaan waarmee hy besig is. Bo en behalwe die wetgewende aanvalle wat die ANC loods om ons wêreldklas universiteite in ‘bos-universiteite’ te omskep, weet ons ook wat sy planne met minderhede is.”

Die wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

En so sien die Suid Afrikaanse onderwys se standaarde sy GAT…transformeer van wat na wat? En die gemiddelde logies funksionerende persoon staan magteloos en toekyk hoe dit gebeur……

D ·

Die minister kan ni eers sake van di dag sorteer ni. Hoe gaan hy hierdie hanteer. Pleks hy begin by Nkandla.

HEVW ·

Die Afrikaner word met sulke ingrypende besluite gedwing om meer versienend te wees. en dit wat ons waarneem moet ons tot n groter eenheid en mag vorm. En ons sal betyds daarna moet handel, anders is toekomsloosheid vir ons n groot werklikheid.

Penellope Jones ·

Enigiets, absoluut enigiets om die Afrikaanssprekendes en wat hy opgebou het af te kraak, te benadeel of doodeenvoudig net te vat.
Maak nie saak wat nie, maak nie saak hoe nie.
Hulle is bereid om hulle siele te verkoop vir net mooi enigiets as dit Afrikaans en Afrikaanssprekendes kan benadeel.

Jan maak n Plan ·

Ek dink dis hoogtyd dat daar meer privaat gemeenskaps skole in die land gestig word wat onder die ouers self se bewind staan en daar nie na die regering eers gekyk word nie. Ons kinders sal dan as beter mense uit matriek uit gaan.

Disselboom ·

Kan nou nie instaan vir hoe goed hulle is en wie en wat nie, maar alles hoef seker nie van nuuts af gebou te word nie:

http://www.bcvo.co.za
http://www.ico.org.za

Daar is ouens in Raslouw (Centurion/ Verwoerdburg) ook besig met ‘n laerskool en ‘n hoërskool wat dalk reeds privaat is.

En daar is selfs in Sandton al ‘n Afrikaanse akademie wat op sy eie staan.

Die BCVO-mense is waarskynlik die wydste oor die land al versprei.

Lee-anne ·

Ons het al onder begin en bo uitgestyg. Ons sal dit weer moet doen. Tragies oor bates/herinneringe wat verlore gaan. Sal moet aanvaar dat ons van voor af moet begin. Of hoe?

Hendrik ·

Onthou daar is kinders op die skoolbanke en hulle het die reg om goeie opleiding te kry. Wat ons ookal doen moet nie ten koste van hulle wees nie. Ons het ‘n loopbane maar hulle moet nog loopbane bou. Soos jy noem hoe doen ons dit. Ons moet koppe bymekaar sit en plan maak. Miskien moet ons die buiteland betrek. Die onderwysers moet betaal word en die fasiliteite moet daar wees. Standaarde moet gehandhaaf word.

Theresa ·

Parasitisme is ‘n vreeslike ding. Jaloesie ook. NIKS kan die doringboompie keer om weer op te staan nie.

JC ·

Ek stem saam met al die kommentaar. Dwing ons regte af, ons bou !! (priv skole en universiteite), moenie ingee en op jou laat trap nie en Afrikaans bo!!

JC ·

Ek is n afriforum lid, ek probeer elke mnd ten minste R200 aan AKADEMIA skenk. Jinne indien ek dit kan doen vir Afriforum en AFRIKAANS kan ander mense sekerlik ook dit EN MEER DOEN VIR AFR !

Oom Kalahari ·

Hierdie besluit en toekenning is ‘n groot slag en knou vir die kinders van die toekoms. Wat hul beoog is ten volle insypeling op alle gebiede, dan die onderdrukkings en beheer prosesse wat afgedwing word, diskriminerende optredes teenoor minderheids groepe en dan vernietigings wat deelname afdwing wat nie wil deelneem aan die beskadigings sindroom nie. Ons Christelike en Opvoedkundige waardes met respek en dissipline is meer waardevol as om dit in te boet vir verdere standard verswakking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.