Omstrede reisregulasies wéér hersien

reis-regulasies

Foto: pixabay.com

Die departement van binnelandse sake het uiteindelik aangekondig dat die bepalings van die omstrede visumregulasies, wat vereis dat alle minderjariges wat Suid-Afrika besoek in besit van ʼn eie paspoort en volledige geboortesertifikaat moet wees, asook dat Suid-Afrikaners jonger as 18 jaar oor ʼn volledige geboortesertifikaat en geskrewe toestemming van albei ouers of voogde moet beskik wat die kind se reisplanne goedkeur, verslap gaan word.

Die direkteur-generaal van die departement van binnelandse sake, Mkuseli Apleni, het Vrydag in Pretoria bekend gemaak dat bogenoemde maatreël binne die volgende drie tot twaalf maande aangepas gaan word: Minderjariges sal voortaan slegs hul eie paspoorte byderhand moet hê, maar die ouers se besonderhede sal wel in die paspoorte aangebring moet wees.

Dié besluit volg ná maande lange, uitgerekte binnegevegte tussen die minister van toerisme, Derek Hanekom, en die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba.

Volgens Sue-Ann de Wet, AfriForum se projekkoördineerder vir Suid-Afrikaanse diaspora, kom hierdie toegewing egter te laat. “Ons spreek sedert die visumregulasies die eerste keer bekend gemaak is, ons kommer oor die uitwerking hiervan uit. Suid-Afrika se toerismebedryf het reeds groot skade gely, insluitend ’n verlies aan werkgeleenthede. Hierdie toegewing gaan ook nie vir almal verligting bring nie en wéér is ons kommer of die departement van binnelandse sake se personeel na behore ingelig gaan word,” het De Wet gesê.

AfriForum versoek ná al hierdie voortdurende veranderinge dat die departement dringend oorweeg om:

  • ʼn toegewyde navraekanaal te skep waar lede van die publiek hul persoonlike omstandighede aan die departement van binnelandse sake kan skets om te verseker dat hulle alle nodige dokumentasie vóór reise tot hul beskikking het; en
  • behoorlike bewusmaking te doen, onder die departement se personeel sowel as die publiek.

AfriForum doen ʼn dringende beroep op ouers om nie oorgerus te wees nie, maar ingelig te bly oor al die maatreëls aangaande die reis met minderjariges om teleurstelling te voorkom wanneer hulle wil reis.

Die regulasies sal op AfriForum se webtuistes (www.afriforum.co.za en www.wereldwyd.co.za) gepubliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.