Omstrede SA ambassadeur in Nederland bedank

Bruce Koloane (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, Bruce Koloane, het bedank.

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdagmiddag in die parlement aan LP’s gesê dat sy in Augustus aan Koloane geskryf en hom ingelig het oor ʼn besluit om hom na Pretoria terug te roep.

Volgens Pandor sou Koloane dié maand nog na Suid-Afrika teruggekeer het, maar het hy nou bedank.

Koloane het voor die Zondo-kommissie na staatskaping erken hy het onwettig opgetree en gelieg.

Ter sprake is die skending van ʼn nasionale sleutelpunt in April 2013 toe ʼn passasierstraler met huweliksgaste van die omstrede en indertyd invloedryke Gupta-familie op die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria geland het.

Koloane was destyds Suid-Afrika se hoof van protokol en dit is hy wat aangedring het dat die vliegtuig daar land, al was dit onwettig.

Koloane het indertyd aangevoer die landing moet voortgaan omdat “Nommer Een” dit beveel het, met “Nommer Een” wat na oudpres. Jacob Zuma as destydse staatshoof verwys het.

Destyds is die kwessie nie deurtastend ondersoek nie. Koloane het in daardie stadium verantwoordelikheid vir die debakel aanvaar. Hy het as hoof van protokol bedank, maar is nie vervolg vir sy onwettige gedrag nie.

Kort daarna het Zuma hom as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland aangestel.

Pandor het ná Koloane se getuienis aangekondig dat sy Koloane se ambassadeurskap en moontlike terugroeping dringend met pres. Cyril Ramaphosa bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Andre ·

Hoeveel geld gaan die bankrot SA regering hom nou gee? Almal stap ryk uit die staatsdiens.

HOBBO ·

Onthou, hoof uitvoerende beamptes van vername ouditeurs firmas het bedank en hulleself skeidingspakkette gegee. Dit nadat dit aan die lig gekom het dat sulke firmas onbehoorlik opgetree het. Niemand het daaromtrent iets gese nie. Ten minste val hierdie mense.

Tammy ·

Wanneer kan ons verwag om die bekendmaking van die vonnisse wat opgele gaan word aan staatskapers te sien?

Speedguard ·

Nou moet hy aangekla word !!!! Ek twyfel maar kom ons kyk !

Chris du preez ·

Die regering gaan hom niks gee nie. Hy het bedank. Hy sal net sy pensioen kry. Zuma het hom ook onder die bus gegooi. Tog bly Zuma se meelopers hom beskerm.

JL ·

En oor ‘n paar maande pop hy op in die parlement asof niks gebeur het nie.

Anel ·

Nou het hy geen diplomatieke imuniteit meer nie. As hy nie self terug kom, deporteer hom. Hoe dom wil hulle nog wees.

Lizl Scheepers ·

Maak net die deur oop vir die volgende skelm kader om ‘n lekker joppie los te slaan..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.