Omstrede SAPD-taalinstruksie gepak

Argieffoto

Solidariteit het Donderdag bekend gemaak dat hy die taalbeleid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noord-Kaap in die hooggeregshof gaan pak.

Dít volg nadat die Noord-Kaapse adjunkprovinsiale kommissaris op 5 September 2016 ʼn direktief uitgevaardig het waarvolgens alle verklarings van die publiek voortaan in Engels afgelê moet word.

“Daar word voorts van polisielede verwag om alle verklarings wat in Afrikaans afgelê word in Engels te vertaal. Polisielede wat nie aan die instruksie voldoen nie kan dissiplinêr aangekla word,” het Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit vir billike arbeidspraktyke gesê.

Volgens Van der Bijl vra Solidariteit in sy aansoek dat die instruksie tersyde gestel moet word op grond van die feit dat dit teen die SAPD se eie taalbeleid asook die Grondwet indruis.

“Ons doen hierdie aansoek op grond van die irrasionaliteit van die besluit en ook op grond van die feit dat dit onprakties is. Statistieke Suid-Afrika bevestig dat 53,8% van die Noord-Kaapse bevolking Afrikaans as eerste taal verkies, terwyl 33% van die bevolking Tswanasprekend is. Slegs 3,4% van die bevolking is Engelssprekend. Dit maak net nie prakties sin dat die Noord-Kaapse SAPD Engels as voertaal gebruik nie,” het Van der Bijl gesê.

Van der Bijl meen dit is weer eens ʼn voorbeeld van ʼn onpraktiese en irrasionele besluit wat geneem is sonder om die publiek in ag te neem. “Dit is eintlik skokkend dat die besluit geneem is sonder om die praktiese uitwerking en uitvoerbaarheid daarvan in ag te neem. Ons sit nou met ʼn geval waar die publiek nie behoorlike diens kan ontvang nie, asook waar polisielede in die onbenydenswaardige posisie geplaas word dat hulle as tolke moet optree sonder die nodige kwalifikasies en bevoegdheid,” het Van der Bijl gesê. Hy meen verder die moontlikheid van foute in verklarings word nou al hoe groter.

Die saak is Donderdag op die SAPD beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Magda ·

Eintlik is die hier by ons in Gauteng ook n probleem, dit is my grondwetlike reg om in AFRIKAANS gehelp te word, maar 99% van die kere wat ek by die SAPD ingaan, is daar net Engelsprekendes aan diens, so of jy nou daarvan hou of nie, as jy gehelp wil wees moet jy maar die soms swak Engelse hulp aanvaar.

Anna ·

Ek het onlangs n verklaring afgelê in Afrikaans nadat my handsak gesteel is. Tot my ontnugtering is dit in Engels vertaal en stellings ingesit wat die hele storie na n grap laat lyk het!!

Griet ·

Anna – ek het dieselfde ondervinding gehad – daar was in ons kantore ingebreek en rekenaars is gesteel. Ek het self die verklaring in Engels geskryf en toe kom mêdem en skryf dit oor in haar gebroke Engels – ‘n hele pot vol jy weet wat. Hulle is belaglik verby!

Anoniem ·

Wanneer gaan ons Afrikaners besef dat die res van Suid Afrika nie regtig om gee oor die grondwet nie. Vir hulle is dit net n stuk papier wat hulle te lui is om te lees. Die republiek is dood, en ons bevind onsself in vyands land. Ons is in n staat van oorlog vanaf 1961, vir ons regte, ons taal en ons kultuur. Hierdie skiet stilstand is net tot die verbetering van ons vyand. Hulle het geen droom van segregasie nie, dit is n blufspel. Hulle soek net een ding en dit is oorheersing.

sinoniem ·

ons is al van kolonialisme se tyd af in oorlog vir ons bestaan. nie die Hollanders,Engelse, Franse, Xhosa’s of Zulu’s wil ons taal hê nie. almal probeer die Afrikaans sprekende breek. met die Almag se genade, bly ons trots Afrikaans. wat n wonderlike God diens ons. in Afrikaans. al skree van ons grootste Afikaanse rolmodelke AFRIKAANS IS GROOT en maak ten spyte daarvan hulle kinders Engels groot.

marous ·

Hulle kan hul Engelse weergawe aan die oorspronklike verklaring aanheg .Wat gebeur as daar in die hof afgewyk word aangesien ‘n polisiebeampte sy eie vertolking van die weergawe in Engels op papier gesit het? Sal weier om te teken aangesien dit nie my moedertaal is nie.

Nettie ·

@Vic – ja-nee, ek het ook gewonder oor daardie anglisisme.

Afrikaanse tannie ·

Ek was nou die dag by n polisiestasie om n klagte aan te meld Ek bly in die Vrystaat Daar was n blanke afrikanse sersant want my gehelp het maar sy het my ingelig dat ek met haar afrikaans kan praat maar sy moet ongelukkig my verklaring in engels skryf want sy het in die moeilikheid gekom omdat sy verklarings in afrikaans geskryf het Dis vir my belaglik dat jou verklaring in engels moet wees terwyl jy afrikaans is en die persoon wat jou help is ook afrikaans Ek is al so g@tvol vir engels want al die onderskrifte by stories is engels maar as hulle engels praat sal hulle dit nie in Afrikaans skryf nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.