Omstrede veldtog om aasvoëls te red

Foto: wikimedia.org

Foto: wikimedia.org

Birdlife SA het vanjaar ʼn veldtog van stapel gestuur wat heelwat kommentaar en debat ontlok het. Lees meer hier.

Dié veldtog se doel is om bewustheid te kweek oor die uitsterf van aasvoëls in Afrika. Die uitvoerende direkteur van Birdlife SA, Mark D Anderson, sê hulle het gehoop dat die veldtog wel soveel reaksie sal kry.

“Ons probeer elke jaar bewustheid skep oor hierdie saak deur praatjies by skole te lewer of persverklarings uit te stuur, maar baie min mense word so bereik. Vanjaar het ons ons bemarkingsagentskap genader en hulle het met die idee vorendag gekom om ʼn fiktiewe voëlspesie te skep.” En so het die “Tuluver” ontstaan. Dié naam is eintlik ʼn anagram (letterskommeling) van die woord “vulture”.

Anderson sê as wetenskaplike organisasie wat met feite werk, het hulle geweet dat hulle ʼn groot kans waag met dié veldtog omdat die organisasie se geloofwaardigheid dalk bevraagteken sou word. “As ʼn nuwe voëlspesie regtig ontdek sou word, is ons die mense wat die aankondiging sal maak.” Hy meen wel dat dit die moeite werd was omdat hulle reeds soveel mense bereik het.

Anderson glo ook dat Birdlife SA se beeld nie geskaad is nie omdat hulle reeds ʼn geloofwaardige organisasie is wat baie doen om voëls te beskerm. “Moenie ons geloofwaardigheid teen ʼn bemarkingsveldtog meet nie. Meet ons teen die werk wat ons doen om voëlspesies te red.”

Hy noem ook dat tradisionele kommunikasie-metodes net nie meer gewerk het nie en dat hulle desperaat is om mense se aandag te vestig op die feit dat aasvoëls aan’t uitsterf is. “Ons probeer keer dat ʼn spesie uitsterf, daarom is ons nie bang om kontroversieel te wees nie.”

Hy vertel verder van die toestand van aasvoëls in Afrika en meen dat dit nie goed lyk nie. “In Wes-Afrika is daar feitlik geen aasvoëls meer nie. Twintig jaar terug was daar ʼn oorvloed gewees.” In Oos-Afrika lyk die situasie nie veel beter nie omdat aasvoëls deur boere vergiftig word. In Suid-Afrika loop hulle ook deur en word die aasvoël se brein geëet omdat daar geglo word dat dié orgaan jou die toekoms kan laat sien. Aasvoëls is ook ʼn goeie teken vir wildbewaarders wanneer ʼn dier moontlik gestroop word, daarom vergiftig stropers die diere nadat hulle die tande of horings gestroop het sodat die aasvoëls kan vrek wanneer hulle aan die karkas eet. Aasvoëls vlieg ook gereeld teen kragdrade of windturbines vas en verdrink in reservoirs. Die lys gaan net aan en aan.

Birdlife SA kyk na volhoubare oplossings vir al dié probleme. Anderson sê dat dit ʼn verskeidenheid mense soos ekonome, politici, wetenskaplikes en bekendes gaan verg om die aasvoël te red. Jan Alleman kan ook ʼn bydrae lewer deur bewustheid te help kweek en ʼn lid van dié organisasie te word.

Besoek gerus Birdlife SA se webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Om insig te kry rondom die saak en die erns daarvan gaan besoek Mohoholo rehab sentrum MPA. Daar is aasvoëls wat vergiftiging oorleef het en nie meer vrygelaat kan word agv liggaamlike skade. Hier sal jy ook sien hoe vêr ‘n aasvoël vlieg om kos te kry, die geskiedenis van broeipare ens.

E.K. ·

Daar is naby Hartbeespoortdam ook ‘n projek om die interesssante voels wat erg bedreig word te beskerm – http://www.vulpro.com. Mense, ondersteun die ouens, hul sukkel so om befondsing vir die projek te kry. Mens kan bv een “aanneem” en dan kry mens allerhande inligting ens – gaan loer gerus op die baie interessante webwerf. Enige finansiele hulp/skenkings is SO welkom! Sekere bevolkingsgroepe glo die arme goed is muti en word hulle doodgemaak om die koppe saam te dra om die draer te “beskerm”! BAIE erg.

J.Z ·

Nig,miskien het jy bewyse van jou beweerings dat boere die voels vergiftig,kan jy vir ons die bewyse gee.boere is n meerfout, so dit sluit alle boere in.As jy nie kan nie, wil ek vir jou se ! SIES!

Michiel ·

JZ lees tog staaadig en aandagtig. Nig skryf PARTY boere en dis nie nodig dat dit bewys word, dis ‘n FEIT. Sy het nerens genoem ALLE boere so jy moet bykom. Selfs Winston het dit genoem. Gaan vra gerus uit en jy sal hoor dis algemene kennis. Hoekom so opgewonder aak – dalk skuldig? sies man

Pat ·

Dankie E.K., het op hul website gaan kyk en dit lyk baie oulik. Sal hulle beslis ondersteun!

E.K. ·

Pat, mense soos jy en Winston (en natuurlik ander wat omgee) laat my hart warm klop! Neem gerus jul kinders dat hul van kleins af leer hoe belangrik die spesie is. Elke ding in die natuur het ‘n plek en die uitsterf van een spesie laat ‘n kettingreaksie van een groot gemors agter.

Winston ·

Ja ek het ook in my omgewing opgetel dat gif onoordeelkundig deur sommige boere gebruik word. Daar is egter baie wat dit nie doen nie. Ek bedank hierdie mede boere. Ek self het n aasvoël voerplek waar karkasse neergesit word van skaap wat aan natuurlike oorsake dood is. Dit is met teleurstelling dat ek n afname in getalle sien. Aasvoëls verdien beter beskerming en veral as jy mense moet “wakker skok” met n “nuwe spesie” .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.