Omvang van rassetransformasie in nasionale departemente onthul

Piet le Roux

Piet le Roux. Foto: Reint Dykema

Solidariteit het in ʼn verslag oor rassetransformasie in 38 nasionale regeringsdepartemente, wat Dinsdag bekendgestel is, aangedui dat die staatsdiens breedweg volgens ras getransformeer is. Dit volg na aanleiding van Lindiwe Sisulu, minister vir staatsdiens en administrasie, se antwoord op ʼn parlementêre vraag verlede jaar waarin sy gesê het dat die staatsdiens getransformeer is en die samestelling van die land se rassedemografie reflekteer.

Volgens Piet le Roux, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is indiensnemingsdata vanuit die 2012/’13-jaarverslae van 38 nasionale departemente ontleed en met data oor Suid-Afrika se ekonomies aktiewe bevolking vergelyk. Die ontleding het ongeveer 400 000 regeringswerknemers ingesluit. “Volgens die ontleding is 74,8% van die werknemers van nasionale regeringsdepartemente swart; 10,8% is bruin; 2,2% is Indiër; en 12,2% is wit. Dit is byna identies aan die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking. Dit beteken dat selfs volgens die regering se obsessie met rassyfers, breë rasseverteenwoordiging reeds in die staatsdiens bereik is.”

Le Roux sê dit beteken dat die grondwetlike doelwit van breë verteenwoordiging in die staatsdiens ingevolge artikel 195(1)(i) van die grondwet sowel as die doelwit van “billike” verteenwoordiging, soos vervat in artikel 2(b) van die Wet op Gelyke Indiensneming, behaal is. “Rigiede voortsetting van rasgebaseerde transformasie binne die staatsdiens is slegs moontlik indien daar buite die grondwetlike mandaat van breë verteenwoordiging opgetree word.”

Die bekendstelling van die ontleding val saam met die aanloop tot Solidariteit se bepalende hofsaak namens lt.-kol. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat op 20 Maart in die konstitusionele hof aangehoor word.

Klik hier om die volle verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.