Onaanvaarbaar dat publiek Zuma se regskoste moet betaal, sê Maimane

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: Twitter via ANA)

Dit is onaanvaarbaar dat die Suid-Afrikaanse publiek voortdurend die rekening moet betaal van voormalige pres. Jacob Zuma se “vertraag ten alle koste”-regstrategie, het Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, gesê.

Die DA is oortuig dat die ooreenkoms waarna pres. Cyril Ramaphosa vroeër vandeesweek verwys het, wat waarborg dat die staat Zuma se regskoste sal betaal, nie regmatig bereik is nie, het Maimane Saterdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê ná ʼn vergadering van die DA se uitvoerende federale komitee.

“Ons regspan het die president skriftelik versoek om ʼn afskrif van die ooreenkoms te verskaf. Ons sal nie huiwer om dit te daag as ons van mening is dat dit onwettig is nie. Dit kan eenvoudig nie aanvaarbaar wees dat die publiek Zuma se regskoste, wat gegrond is op ʼn strategie om die saak ten alle koste te vertraag, te betaal nie – veral nie as Zuma die regstryd in sy persoonlike kapasiteit aanpak nie. As Jacob Zuma die regsproses wil misbruik om tronkstraf vry te spring, dan moet hy bereid wees om self daarvoor te betaal.”

Maimane het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aankondiging Vrydag verwelkom dat Zuma uiteindelik vervolg sal word op verskeie korrupsieaanklagte, maar bygevoeg die NVG het alles in sy vermoë gedoen, wettig en onwettig, om dit te vertraag.

“Alhoewel hierdie oorwinning gevier moet word, moet ons daarop wys dat nie enige van die verskeie nasionale direkteure van openbare vervolging, wat onder die Zuma-presidensie gedien het, voldoende onafhanklik of met die morele durf op te tree wat van dié kantoor vereis word nie. Hulle het Jacob Zuma as hul politieke meester gedien, en toe hy weg is, het hulle uiteindelik die ruggraat gekry om teen hom op te tree.

“Ons kan nie rus totdat ons uiteindelik ʼn waarlik onafhanklike nasionale direkteur van openbare vervolging en ʼn waarlik onafhanklike NVG het nie. Daarom het ek pres. Ramaphosa Dinsdag gevra of hy ʼn meer deursigtige en geloofwaardige aanstellingsproses vir die nasionale direkteur van openbare vervolging sal ondersteun.

“Intussen sien ons uit na Zuma se hofsaak sonder enige verdere vertraging. Ons sal heftig enige verdere vertragingstaktieke deur Zuma of die staat teenstaan,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vermeendes ·

Ja-nee, ons kan sien die verkiesing kruip nader. Al die stuurmanne staan veilig aan wal en waai hulle instruksies aan die dronk matroos wat die SA skuitjie oor n afgrond gaan stuur.

zoom zoom ·

Bollie en betaal is die wet van Transvaal. Zuma is ‘n kul jou hier kul jou daar spesialis.

Alida ·

Ek stem saam. Die DA moet GEEN vertragingstaktiek duld nie. Dit is vooraf beplan. Wie de hel is hierdie NRO wat dit wil teenstaan. Skelms.

Lerato ·

Na omtrent n dekade se stryd, gaan die DA, eindelik Zuma in die hof kry.
Mooi DA hulle het in julle/ons saak geglo en vasgebyt

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.