Deidre Allen het ʼn onafgelewerde brief ontvang wat sy 12 jaar gelede gepos het, het die Saturday Star berig.
Allen was geskok om dié brief, wat sy al in 2002 gepos het, weer te sien. Die brief was ʼn brosjure wat sy van Johannesburg na KwaZulu-Natal gestuur het om ʼn werkswinkel te adverteer wat sy aangebied het.
Allen vermis glo ook minstens 14 Kersfeeskaartjies wat familielede van oorsee gepos het. Sy het ʼn klag ingedien by die Poskantoor, maar nog nie enige reaksie ontvang nie.
Nobuhle Ngapha, ʼn woordvoerder van die Poskantoor, sê ʼn toesighouer monitor spesifieke afleweringsroetes indien die maatskappy klagtes ontvang dat pos nie afgelewer word nie. “Slegs die kliëntedienssentrum hou nota van alle terugvoer van kliënte en dit word gebruik om bedryfskwessies aan te spreek,” het Ngapha gesê. Sy sê internasionale pos kan deur die wisselvallige skedules van vragskepe beïnvloed word en vertragings veroorsaak wat buite die Poskantoor se beheer is. -SAPA