Onafhanklike kandidate mág aan verkiesing deelneem – hof

Die verkiesingsuitslae is Saterdag (11 Maart 2019) amptelik deur die OVK aangekondig. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

ʼn Uitspraak Donderdagoggend deur die konstitusionele hof dat aspekte van die Kieswet ongrondwetlik is, het skokgolwe deur die politieke landskap gestuur. Dié uitspraak gee Suid-Afrika twee jaar om ʼn nuwe kiesstelsel vir nasionale en provinsiale verkiesings te ontwerp.

Die hof het bevind dat die Kieswet ongrondwetlik is wat betref die bepaling dat die verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering, Nasionale Raad van Provinsies en provinsiale wetgewers moet plaasvind volgens lyste soos voorgelê deur politieke partye, tot uitsluiting van onafhanklike kandidate.

Die hof het dus in praktyk bevind partylyste is nie die enigste manier waarop mense tot die parlement of provinsiale wetgewers verkies kan word nie. Benewens deur partye kan onafhanklike kandidate hulself ook nou verkiesbaar stel.

Die parlement moet nou binne twee jaar ʼn nuwe kiesstelsel skep waarin individue as onafhanklikes kan staan in nasionale en provinsiale verkiesings.

Net om sake ʼn bietjie meer ingewikkeld te maak sal uiteindelike uitslae van nasionale en provinsiale verkiesings steeds ʼn breedweg proporsionele uitslag moet oplewer.

Die uitspraak geld nie plaaslike verkiesings, waar onafhanklikes reeds as wykkandidate kan staan nie en behoort dus geen invloed op volgende jaar se plaaslike verkiesing te hê nie.

Die hof het nie voorgeskryf watter stelsel die parlement moet instel nie.

In reaksie op die uitspraak het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, gewaarsku dat daar nie sommer aan die huidige kiesstelsel getorring moet word nie.

“Indien daar beweeg word na ʼn kiesafdelingstelsel, sal dit die ANC sterk bevoordeel. In die Van Zyl Slabbert-verslag is bevind dat sou Suid-Afrika se kiesstelsel oorskakel na ʼn kiesafdeling-kiesstelsel soos voor 1994, dit die ANC feitlik oornag ʼn meerderheid van sowat 80% in die nasionale vergadering kan besorg.”

Hy sê dit is ook baie selde dat onafhanklike kandidate verkies word, aangesien dit groot, omvattende en duur infrastruktuur verg om aan ʼn verkiesing deel te neem.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het op sy beurt die uitspraak verwelkom en uitgewys die probleem moet deur die parlement getakel word, nie die OVK nie. Die parlement het in ʼn verklaring gesê hy sal die uitspraak bestudeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Study this proposal all you want. Apart from yhe others, i think its a good idea.
Untill tested, of course.

Raadslid ·

Een van die swakste beslissings nog.
Beslissings getuig van onkundigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.