Onafhanklike mediahuis sluit sy deure

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Associated Media Publishing (AMP), een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike mediahuise, het Donderdag aangekondig dat hy sy deure gaan sluit. AMP publiseer die tydskrifte Cosmopolitan, House & Leisure, Good Housekeeping en Women on Wheels.

Julia Raphaely, uitvoerende hoof van AMP, het in ʼn verklaring gesê die maatskappy sal vanaf Vrydag nie meer enige van sy tydskrifte publiseer of versprei nie.

Luidens die verklaring het die Covid-19-pandemie sy tol op die maatskappy geëis met die druk en die verspreiding van tydskrifte wat noodgedwonge halt moes roep. “Die wêreldwye stilstand van die besteding op advertensies asook die onvermoë om geleenthede aan te bied, het dit dus vir AMP onmoontlik gemaak om voort te gaan ondanks groot hoeveelhede persoonlike fondse wat in die maatskappy gestort is.”

Die maatskappy is nou besig om die negatiewe finansiële impak op personeel en krediteure te mitigeer.

“Dit is die moeilikste besluit wat ek nog ooit moes neem,” het Raphaely gesê. “AMP was die afgelope 38 jaar een van Suid-Afrika se voorste uitgewers en ons tydskrifte was deel van baie mense se lewens. Dit is ‘n groot slag vir tydskrifmedia-handelsmerke in Suid-Afrika omdat hulle ‘n spesiale plek in ons land beklee. Ons het nooit gedink dat hierdie dag sou aanbreek nie, maar ons het geen keuse nie.”

Jane Raphaely, Julia se ma, het AMP in 1982 op die been gebring.

Facebook bewillig fondse vir nuuskantore

(Foto: pixabay)

Facebook het intussen aangekondig dat hy $390 000 (sowat R7 miljoen) bewillig om Suid-Afrikaanse nuuskantore gedurende die pandemie te ondersteun.

Luidens ʼn verklaring sal die Facebook Journalism Project (FJP) die fondse beskikbaar stel om Suid-Afrikaanse nuusorganisasies te help om die ekonomiese impak van die koronavirus op die bedryf te hanteer.

Sowat $140 000 (ongeveer R2,5 miljoen) sal aan Suid-Afrikaanse uitgewers toegeken word terwyl $250 000 (meer as R4,5 miljoen) aan ʼn video-opleidingsprogram vir 10 000 joernaliste oor die hele Afrika-kontinent bestee sal word wat tans die pandemie deur middel van video-verslaggewing dek.

“Ons sal befondsing en opleiding bied om nuuskantore se werk rakende die koronavirus en joernalistiek van hoë gehalte reg oor die land te ondersteun,” lui die verklaring.

Nuusorganisasies kan vanaf 5 Mei aansoek doen vir dié fondse op die FJP se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renata

n Maatskappy wat al 38jaar bestaan…hoeveel maatskappye gaan volg in hierdie een se voetspore? Kan die regering nie sien wat die uitwerking van die lockdown het nie?! Hoeveel mense en besighede moet bankrot speel ter wille van n paar sterftes? Minder sterftes aan Covid 19 as aan enige ander siekte, baie meer het al herstel!

lodewyk

Daar begin dit nou-hou die spasie dop!!

PieterP

Uitstekend, wel done ANC regering. Nog mense sonder werk. Kon hulle hulp van die regerings fondse kry, neeee sekerlik nie. Hulle sal hulle verlekker oor die val van nog ‘n blanke besigheid.