‘Onafhanklike organisasie moet KZN-skade bepaal’

Premier Sihle Zikalala (Foto: KZN-regering/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie in KwaZulu-Natal het Dinsdag die premier, Sihle Zikalala, versoek om ʼn onafhanklike organisasie aan te stel om ʼn akkurate kosteberaming te doen oor vloedskade in die provinsie.

Dit kom ná teenstrydige verslae van die ANC-beheerde provinsiale regering oor die monetêre waarde van skade wat aangerig is.

Francois Rodgers, leier van die DA in die provinsiale wetgewer, sê die inwoners is vroeër vandeesweek amptelik deur die premier in kennis gestel dat die vloedskade ongeveer R950 miljard beloop. “Dit is gevolg deur ʼn laataand-regstelling, waar die syfer tot R17 miljard aangestel is, met ʼn flou verskoning vir die fout.”

Rodgers sê as só groot fout een keer gemaak is, kan dit weer gebeur. “Die provinsiale regering het ʼn baie swak rekord wanneer dit kom by die spandering van rampverligtingsfondse. Dit wil voorkom of niks hierdie keer verander het nie.”

Hy sê dit is ongelukkig nie ʼn geïsoleerde voorval nie. “Die premier se algemene gedrag die afgelope twee weke word ook bevraagteken. Daar is aanvanklik ontken dat ʼn watertenkwa buite sy huis geparkeer was vir die uitsluitlike gebruik deur sy gesin. Daarna het beskuldigings gevolg toe beeldmateriaal digitaal gedokter is. Net twee dae later het die premier sy fout erken en ʼn verskoning uitgereik vir die mense van KwaZulu-Natal.”

Die premier het daarna vir Rodgers gesê die rede waarom die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda, nêrens te sien was tydens die oorstromings nie, was omdat hy griep het. “Dit het gevolg deur ʼn verklaring deur die burgemeester se kantoor wat sy omvattende betrokkenheid by die krisis uitgelig het.”

Die DA neem ook kennis dat sommige gebiede wat by die kosteberaming ingesluit is, twee weke gelede glad nie swaar reën beleef het nie. “Die vraag is: watter skade is dit presies? Dit is duidelik dat niks wat uit die mond van die premier en sy ANC-geleide provinsiale regering vertrou kan word nie.”

Rodgers sê die aanstelling van ʼn onafhanklike ouditeur is die enigste manier hoe die DA die premier se toewyding tot deursigtigheid en aanspreeklikheid sal kan vertrou. “Tot dan bly dit net leë woorde.”

Die DA in KwaZulu-Natal bly toegewyd tot die beskerming van staatsgeld en om seker te maak dat “die regering se hiënas en aasvoëls weggehou word”. “Ons sal voortgaan om seker te maak dat diegene wat die ergste deur die oorstromings geraak is, prioriteit geniet, tesame met die herbou van ons ekonomie om poste te verseker.”

Hy sê die DA wil die inwoners van die provinsie verseker dat die wetgewer alles in sy vermoë sal doen om die herstelprogram te monitor – tot op die laaste paar rand en sent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

Hier lê die begin van die korupsie aanslag Fondament word kla gelê.

Christine ·

Hahaha, dis skreeusnaaks! Daar was blykbaar voor die R17 miljard ook ‘n regstelling na R1.7 miljard! Nog ‘n Zuma-syfer-gestremde wat vir die KZN-regering werk! Ja, beslis moet ‘n onpartydige en privaat instansie hierdie rampverligtingsfondse beheer, maar hou maar daai hulpfondse ook dop, dit gaan verdwyn!

SjN ·

Onafhanklike organisasie moet aangestel word, weer n klomp geld uitgee, stel bevoegde mense in die poste aan wat die werk kan en wil doen.

Yvonne ·

O genade die budgets is al klaar uitgewerk vir die meevallertjie….defnetief big time shopping

Madz ·

Hier kom weer ‘n geleentheid vir ‘n lekke “take-away”… Stel tof iemand wat NIE kader-gelink is aan vir die taak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.