Onafhanklike oudit versoek oor Beitbrug-grensdraad

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het die ouditeur-generaal versoek om ʼn onafhanklike oudit te doen van ʼn 40 km lange grensdraad by die Beitbrug-grenspos wat haar departement herstel en vervang het.

De Lille het Thembekile Kimi Makwetu skriftelik versoek om dadelik met ʼn eksterne oudit te begin en alle aspekte van die Beitbrug-grensposprojek te ondersoek.

“Pres. Cyril Ramaphosa het op 15 Maart 2020 die land toegespreek oor die Covid-19-uitbreking,” het De Lille verduidelik. “Dit het gevolg kort ná die koronavirus as ʼn wêreldwye pandemie verklaar is. Die president het ʼn ramptoestand afgekondig. Een van die maatreëls was dat Suid-Afrika se grensposte en hawens dadelik gesluit moes word, wat ingesluit het dat 35 van die 53 grensposte gesluit moes word. Dié maatreël sou egter nie doeltreffend gewees het as die heinings by die grensposte nie beveilig is nie, en op talle plekke was dit nie beveilig nie.”

De Lille sê die departement van verdediging en militêre veterane, wie se mandaat dit is om Suid-Afrika se grensposte te beveilig, het in daardie stadium die departement van openbare werke en infrastruktuur versoek om dringend ʼn 40 km-gedeelte van die Beitbrug-grenspos se heining te beveilig.

“Om versekering en volle oorsig te bevestig en om besware van die publiek aan te spreek, versoek ek u kantoor om dadelik ʼn eksterne oudit te doen van die projek,” het De Lille aan Makwetu gesê.

Philip van Staden, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, het gesê sy party het sy vrae oor die heining van 40 km lank by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe aan De Lille gerig.

“Die VF Plus sal graag wil weet hoe lank dit gaan neem voordat die grensdraad herstel is, wat die herstelkoste gaan wees, watter soort draad daar was en nou gebruik gaan word en watter maatreëls nou in plek gestel gaan word om te verseker dat die draad nie weer gevandaliseer gaan word nie,” het Van Staden verduidelik.

“Die VF Plus is bekommerd oor die hoë bedrae geld wat bestee is om die heining op te rig net om weer beskadig te word selfs voordat werk aan die heining afgehandel is. Alhoewel dit nodig is dat grense tussen Suid-Afrika en buurlande gesluit moet wees om die verspreiding van die Covid-19-virus te beheer en te beperk, moet daar behoorlike maatreëls in plek wees om te verseker dat beskadiging aan die heinings nie plaasvind nie en dat voldoende patrollerings in plek gestel word vir dié doel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rodger17 ·

Die heiningdraad seker weer geplunder om hoenderhok te bou

Michael 1 ·

Wanneer jy n dieretuin het kan jy nie eendag besluit om die kameelperde in beheer te sit nie want die ander diere sal doodgaan van honger en die infrastruktuur sal tot nuut gaan .Dit sal nie die kameelperde se skuld wees nie maar die een wat hulle in beheer geplaas het.

Leon ·

Daar was gedurende die apartheidsjare ‘n baie wye sisal heining. Hy was feitlik ondeurdringbaar. dit is afgekap na 1994 sodat die makliker was vir Zimbabwiërs om deur te kom. Hoekom nou skielik nie meer hulle pêlle laat deurkom nie.

Kobus ·

Liewe tannie Pat,as ek reg onthou was u die groot minister wat op nasionale TV aangekondig het dat die heining tbv miloene opgerig/hertsel gaan word.Nou is u soos die president en mede ministers erg “geskok”.Is logika nie deel van u beroep nie? Weet u ooit hoe lyk dit by Beitbrug? As ek reg onthou,word “onwettige” Zim emigrante Donderdae per bus terug karwei Beitbrug toe.Ek verstaan ook dat hulle kos en koeldrank tydens die pretrut kry.By Beitbrug aangekom,gaan hulle deur die grenspos,hardloop so 50 meter langs die Limpopo rivier,steek dit oor na die vulstasie waar taxi’s staan en wag.Voor die busse terug is in Gauteng is die emigrante via taxi’s terug.Dink u regtig dat ‘n draad die mense gaan keer? Diefwering en palisade keer hulle nie eers nie.Doen u werk asb

Kruger ·

Vraag: wie het die heining so vinnig, met watse materiaal, teen watse koste herstel? 40km heining vat nogals tyd. Ek glo dit nie. Sal hulle die ondersoek bekendmaak? Kan nie wag nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.