Onafhanklike owerheid gaan SA se sukkelende hawens regruk

Die Kaapstadse hawe. (Foto: Jean van der Meulen/pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag aangekondig dat die haweowerheid nou ʼn onafhanklike filiaal van Transnet sal wees, met ʼn raad wat deur die minister van openbare ondernemings aangestel gaan word.

Ramaphosa sê ʼn belangrike stap om probleme by hawens uit die weg te ruim, is ʼn duidelike skeiding tussen die rol van die infrastruktuur-eienaar – die Transnet- nasionale haweowerheid – en die operateur van terminale, wat Transnet-haweterminale is.

“Die funksionele en wettige skeiding van die rolle, wat tans bedryf word as afdelings van dieselfde maatskappy, gaan elkeen toelaat om meer onafhanklik en doeltreffender te werk,” sê Ramaphosa.

Die president sê in besonder beteken dit dat die opbrengs wat die hawens genereer in hawe-infrastruktuur belê kan word vir die vervanging van ou toerusting, sowel as vir die opgradering en uitbreiding van hawens.

“Die skep van ʼn afsonderlike filiaal gaan die haweowerheid toelaat om sy eie beleggingsbesluite te neem en gaan verseker dat hy al sy terminaaloperateurs billik en gelyk in die belang van hawegebruikers behandel.”

Transnet bly die enkele aandeelhouer van die filiaal om enige negatiewe uitwerking op die groep se balansstaat teen te werk en om te verseker die haweowerheid bly ʼn belangrike deel van die Transnet-groep.

Ramaphosa sê tesame met die herstrukturering van Eskom, is die stap deel van voortgesette pogings om staatsbeheerde ondernemings te herposisioneer en te transformeer tot winsgewende, volhoubare en mededingende ondernemings wat ʼn belangrike ontwikkelingsrol in die ekonomie kan speel.

“Die hervorming gaan ʼn regstreekse uitwerking op hawegebruikers en uitvoerbedrywe hê. Hulle gaan baat by verhoogde doeltreffendheid, laer koste en nuwe belegging in hawe-infrastruktuur.”

Ramaphosa sê die stap gaan ʼn uitwerking op elke Suid-Afrikaner hê wat gaan baat by laer pryse van goedere en meer werkskepping deur die waardeketting. “Dit is dalk nie ooglopend nie, maar byna elke produk wat ons koop word op een of ander manier deur ons hawens geraak.”

Hy het benadruk dat die hawens die eiendom van die staat bly.

Ramaphosa sê hawens is noodsaaklik vir Suid-Afrika se handel met die res van die wêreld en speel ʼn noodsaaklike rol nie net in die land se ekonomie nie, maar ook dié van die breër streek.

“Die Kaapstad-hawe is strategies geleë op een van die besigste internasionale skeepsroetes en is ons tweede grootste vraghouerhawe per volume. Dit is veral belangrik vir die uitvoer van ons vars vrugte en wyn. As die hawe doeltreffend werk, baat die ekonomie van die Wes-Kaap en die hele land.

“As hawedienste ondoeltreffend en duur is, of as in- en uitvoere vertraag word, ly die ekonomie daaronder.”

Ramaphosa sê die prestasie van Suid-Afrika se hawens het die afgelope jaar teruggesak in vergelyking met ander hawens op die vasteland en wêreldwyd.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig Suid-Afrika se hawens is van die swakste ter wêreld.

“Dit het ʼn beduidende uitwerking op ons uitvoere en maak Suid-Afrikaanse produkte minder mededingend en verhoog die koste van goedere vir elke Suid-Afrikaner. Ons gaan die afname omkeer en ons hawens posisioneer as fasiliteite van wêreldgehalte wat ekonomiese groei kan moontlik maak.”

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal volgens Ramaphosa teen die einde van die maand ʼn tussentydse raad aanstel om die vestiging van die nuwe filiaal te hanteer en te verseker die proses word so gou moontlik afgehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Stap in die regte rigting. Tyd sal leer. Laat ons eers sien wies op die nuwe Raad

Barend

Hoekom dan die gesukkel met Eskom as herstrukturering so maklik blyk te wees?

Adam Adriaan

Die ANC se brousel bevat altyd gif wat tot die dood van die organisasie lei

Francois

Ag asb. Enige iets wat die regering aanraak of voorstel verander in korupsie

Dries

Solank die ANc se kloue daarin is bly dit n gemors