Onafhanklikes nou ‘groter’ as politieke partye

Verskeie onafhanklike bewegings het reeds uitstekende uitslae in die verkiesing behaal. (Foto: Reint Dykema)

Mmusi Maimane, leier van die One South Africa Movement (OSA), sê Suid-Afrikaners het in die pas afgelope plaaslike verkiesing met “hul voete” gestem en deur nié te stem nie, die land se twee grootste partye verwerp.

Kieseropkoms sal na verwagting die laagste sedert die aanvang van demokrasie wees en minder as 50% van geregistreerde kiesers het na verwagting Maandag hul kruisies gaan trek.

Volgens Maimane kan daar ʼn voortgesette skuif van groot, bekende partye na meer onafhanklike bewegings en onafhanklike kandidate wees, veral omdat vertroue in die politieke stelsel op ʼn rekordlaagtepunt is.

“Die stelsel is gebroke, dit moet hervorm word,” het Maimane Woensdag gesê.

OSA het verskeie onafhanklike kandidate en bewegings in die verkiesing gesteun en Maimane sê dié nuwelinge het uitstekend gevaar. Nagenoeg 450 000 stemme is landwyd vir onafhanklike kandidate uitgebring en plaas hulle in hierdie stadium nasionaal in die vyfde plek.

Dit beteken ook onafhanklikes, as ʼn geheel, is nou groter as politieke partye soos Cope, die VF Plus, GOOD, die ACDP, UDM, PA, NFP en ATM. Slegs die ANC, DA, EFF en IVP kon tot dusver beter vaar.

Mmusi Maimane, leier van die One South Africa-beweging. (Foto: OSA)

Maimane sê die ongelooflike sukses van onafhanklike kandidate kan beteken die land kan dalk binnekort sy eerste onafhanklike burgemeester hê. Hy het verskeie gebiede uitgesonder waar onafhanklike organisasies of kandidate veral goed gevaar het.

Een daarvan is in die Wes-Kaap, waar die onafhanklike groep Cederberg Eerste altesame 27,5% van stemme getrek het, met net die ANC wat meer stemme (35,45%) behaal het. Die DA was in die derde plek (20,72%), gevolg deur die PA (7,76%) en die VF Plus (3,16%).

Die Setsoto Service Delivery Forum in die Vrystaat (Ficksburg-omgewing) het 11 139 (22,88%) van alle stemme daar gekry, met weereens net die ANC (50,96%) wat meer stemme kon lok.

Terug in die Wes-Kaap het die Knysna Independent Movement altesame 7,9% van stemme gelok en volgens Maimane sal die beweging heel waarskynlik die koningmaker in die Knysna-munisipaliteit wees.

Die Lekwa Community Forum (19,43%) in Mpumalanga is in die Lekwa-munisipaliteit net deur die ANC (42,03%) uitgestof en het partye soos die DA (13,36%) en EFF (9,18%) geklop.

“Ons is ongelooflik trots op elke onafhanklike kandidaat en gemeenskapsorganisasie omdat hulle ʼn dapper geloofsprong gewaag het en die huidige situasie in dié verkiesing uitgedaag het,” sê Maimane.

OSA hoop dat sy loodsprojek – om onafhanklike kandidate te steun – die grondslag gelê het vir toekomstige verkiesings en dat onafhanklike groepe in die komende maande met mekaar sal saamwerk.

“Die hartseer waarheid is terwyl gemeenskappe ly aan die hand van ʼn mislukte regerende party, verwerp kiesers oor en oor die substandaard en teleurstellende opsies in opposisiepartye. Ons demokrasie moet volwasse word en deur kiesers die keuse van individuele kandidate te gee, is dit moontlik dat mense op grondvlak en wat die spesifieke probleme in ʼn gemeenskap verstaan – maar nie aan ʼn party verbind is nie – verkies kan word,” sê Maimane.

Hy sê dit open die deur vir vaardige mense uit alle sektore van die samelewing om aan die verkiesing deel te neem, stuit oorheersing en die kaping van partye en versterk burokrasie.

“Suid-Afrika benodig dringend ʼn nuwe en geloofwaardige alternatief – en dit kan nie nog ʼn politieke party wees nie.”

Maimane sê waardes en pragmatisme, en nie ideologie nie, moet die dryfveer wees en dat Suid-Afrikaners met gedeelde waardes met mekaar moet saamwerk.

“Ons moet ʼn Suid-Afrika bou waar alle burgers kan saamwerk én floreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Robert ·

Uitstekende nuus, mense will stem vir verteenwoordiges wat in dieselfde buurt woon en dieselfde probleme ondervind.

Adri ·

Bla, bla, bla. Nuttelose getjommel wat geen verandering gaan bring nie.

Deon ·

Kom ons wag en kyk wat gebeur…. Onthou hierdie is mense wat in n Suid Afrika met n toekoms glo, hulle werk tot dusver is sonder enige dinansiele ondersteuning van die staat, so dit beteken dan eintlik baie

christo ·

Raadslede moet verantwoordbaar wees aan hulle kiesers en nie aan partypolitieke leiers nie. Jy wil weet waar jou verteenwoordiger in die stadsraad bly en sy allie hard gaan skop as daar nie dienslewering is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.