‘Onbegryplik’; Vodacom vaar uit oor ‘Please Call Me’-beslissing

(Argieffoto: Vodacom)

Vodacom gaan hom tot die Konstitusionele Hof wend met ʼn aansoek om verlof tot appèl teen die appèlhof se uitspraak in die omstrede “Please Call Me”-saak.

“As ʼn verantwoordelike maatskaplike burger respekteer Vodacom die regstelsel en hou hy hom by die wette van die land. Ná oorweging van die appèlhof se uitspraak en bevel is Vodacom van mening dat sekere sleutelaspekte van die saak nie strook met die gees van die wet nie en dat die uitspraak en bevel fundamenteel gebrekkig is,” het die maatskappy Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die selfoonreus en Nkosana Makate, die uitvinder van die terugbeldiens Please Call Me, is al jare lank in ʼn bittere stryd om vergoeding hiervoor gewikkel. Vodacom het die boodskapdiens in Februarie 2001 bekend gestel. Dit laat intekenare toe om ʼn Please Call Me-boodskap (PCM) gratis aan ʼn ander netwerkgebruiker te stuur. Makate het aan die idee gedink terwyl hy nog by Vodacom gewerk het. Luidens berigte het die boodskapdiens die maatskappy al sowat R70 miljard aan inkomste besorg.

Vodacom sê uit die afwykende uitspraak van die appèlhof is dit duidelik dat die meerderheidsbeslissing die talle kwessies tussen die partye misgekyk of geïgnoreer het in hul bewyse en betoë oor daardie kwessies.

In sy aansoek by die Konstitusionele Hof voer Vodacom onder meer aan dat die appèlhof se bevel inbreuk maak op bepaalde grondwetlike regte en Vodacom “ontneem van sy reg op ʼn billike verhoor”.

Vodacom voer ook aan die appèlhof het verkeerdelik besluit oor kwessies wat nie deur die maatskappy, óf deur Makata, voor die hof geplaas is nie.

“Die appèlhof kies selektief om net ag te slaan op mnr. Makate se bewyse, soos in die geval van modelle om die vergoeding betaalbaar aan mnr. Makate te bereken, terwyl hy bewysgedeeltes hieroor wat Vodacom voorgelê het – en wat mnr. Makate se weergawe betwis – geïgnoreer het.

“Die appèlhof se bevel is onbegryplik, onverstaanbaar en vaag wat dit onmoontlik maak om uit te voer en af te dwing,” sê Vodacom.

Die maatskappy waarsku ook dat sou die appèlhof se uitspraak gehandhaaf word, dit ʼn “wye en verreikende uitwerking” op die maatskappy in Suid-Afrika, die Vodacom-groep en die “aanloklikheid van Suid-Afrika as ʼn beleggingsbestemming” sal hê.

“Dit gaan ons personeel, aandeelhouers en Vodacom se bydrae tot die openbare finansies negatief raak. Dit gaan ook ʼn uitwerking op ons netwerkbelegging, opvangs en maatskaplike programme hê.”

Vodacom sê hy het al vantevore met Makate onderhandel om ʼn billike skikkingsooreenkoms te bereik.

“Hierdie pogings het tot dusver misluk.”

Vodacom sê egter hy bly ontvanklik vir konstruktiewe dialoog en onderhandelings wat in goeder trou en sonder benadeling van die appèlproses in die Konstitusionele Hof gedoen word en sal instem tot ʼn “billike en regverdige bedrag” as vergoeding vir Makate se idee wat tot die ontwikkeling van die PCM-produk gelei het.

“Dit is Vodacom se begeerte dat die saak minlik opgelos en spoedig afgehandel word.”

Só verloop regstryd

Vodacom se uitvoerende hoof het, ingevolge ʼn bevel van die Konstitusionele Hof wat in 2016 gemaak is, op vergoeding van R47 miljoen vir Makate besluit. Makate het die aanbod verwerp en hom tot die hooggeregshof gewend waar hy gevra het dat die aanbod hersien en omgekeer word. In Februarie 2022 het die hooggeregshof die Vodacom-hoof se bedragvasstelling ter syde gestel en beveel dat ʼn skikking aan Makate heroorweeg moet word. Vodacom het dieselfde maand nog ʼn aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak ingedien en uitspraak is in Februarie vanjaar in die appèlhof gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

Volgens my wete, behoort die intellektuele kennis van ‘n werknemer aan die werkgewer terwyl hy/sy in diens van ‘n maatskappy is en is ‘n werkgewer nie verplig om die werknemer vir uitvindsels of nuwe idees ter verbetering te vergoed nie??

Vettiemaragartos ·

As mens so bietjie op die internet rondkrap sien jy dat Ari Kahn eintlik die please call me ‘n week van tevore aan MTN voorgelê het.

@Manie ek stem saam met jou en as Makate dit in sy privaat tyd ontwikkel het hoekom het hy dit nie as ‘n “trade mark” geregistreer nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Deurmekaar spul. Maar wie het die patent eerste geregistreer?

Euodia ·

Ja of as sy “intellectual property” dink ek seker dieselfde “trade mark”?

Henk ·

Ek stem saam met Manie. Jare gelede het ‘n man ‘n program ontwerp vir die weerburo ( in sy vrye tyd) en toe bedank. Toe hy die program aan die weerburo wou verkoop, toe gebruik hulle diesefde argument en eis die program. Die man het geen vergoeding gekry nie.

Johanncb ·

As die saak vir nóg twee dekades aanhou, gaan Mnr Makate dalk nie veel van sy aftrede kan geniet nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarskynlik het ‘n mededinger reeds miljoene aan die eiser betaal en help hom nou om Vodacom aan te vat.

Cassie Carstens ·

Ek stem saam met Manie. Vodacom en die klaer is ewe hardekwas en geldgierig. Sal net graag wou weet wie sit agter die klaer dat hy so lank met die beste regsverdedigings spanne kon uithou? Hy moet net oppas dat as die saak teen hom besleg word, sal hy niks oorhê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.