Onbeheersde drang na mag gaan ANC doodmaak, meen Kodwa

Argieffoto

Argieffoto

Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, het Vrydag gesê die “onbeheersde drang na mag” onder die regerende party se lede sal nog die einde van die party beteken.

Kodwa het dié uitlatings aan die media gemaak by die party se streekshoofkantoor in Port Elizabeth tydens die aanvang van die organisasie se plaaslikeverkiesingsveldtog.

Jessie Duarte, adjunksekretaris-generaal, sal na verwagting Saterdag ʼn openbare vergadering bywoon en kwessies in gebiede, waar die inwoners ontevrede is oor die party se keuses vir raadslidkandidate, toespreek. Inwoners van Kwazakhele het die afgelope paar weke bande aan die brand gesteek, omdat hulle oortuig is die kandidate word op hulle afgedwing. ANC-lede het vandeesweek weer voor die ANC se streekskantoor by Florence Matomela House betoog. Hulle beweer die kandidaatlys is gemanipuleer om mense in te sluit wat nie deur die inwoners onderskryf word nie.

Kodwa het gesê die wykskandidate is Donderdag geregistreer en die party hanteer die ontevredenheid.

“Daar gaan ʼn tyd kom wanneer die mense nie meer jou leierskap aanvaar nie, en jy moet aanvaar dat jy die mense net gaan lei solank as wat hulle wil hê jy moet lei,” het Kodwa gesê. “Daar gaan ʼn tyd kom wanneer jy ʼn volgeling moet wees. Daar is ʼn toenemende neiging in die organisasie waar mense vir altyd wil lei. Jy is vandag deur die ANC ontplooi en jy kan môre verwyder word,” het hy gewaarsku.

Hy het bygevoeg die party sal, in ʼn stadium wat dit behoorlik is, die proses moet hersien om raadslidkandidate te kies, indien die huidige situasie beteken dat die beeld en integriteit van die organisasie skade ly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wicus ·

Dit kan nie gou genoeg gebeur nie! Hoop net die volgende lot dien die land in geheel en is nie daar net vir hulself nie! Maar nouja, mens weet wat jy het en nie wat jy gaan kry nie.

Ons moet ons oog hou op ons vryheid in die verre toekoms!

Hasie ·

Zizi Kodwa is baie, maar die magsbeheptes is al so ver heen dat niks hulle sal verander nie. Hulle sal dit nie eers agterkom as die ANC tot niet sou gaan nie. Neem as voorbeeld Joma Petersen.

johann cb ·

As dit iemand in die binnekring se mening is, is daar lig aan die einde van die tonnel! Daar is nog hoop. Die mening is ook dat die DA Port Elizabeth moontlik kan inpalm!

John ·

Volgens ‘n berig in ‘n Vrystaatse koerant het ‘n bekende Afrikaanse politieke kommentator na bewering in Bloemfontein gese dit sal die land ten goede strek as die EFF die regering oorneem, want dit sou die ANC glo tot inkeer bring en hulle meer uit die linkerkant na middelmatigheid laat beweeg. Hoewel die beheer deur die EFF rampspoedig mag verloop, glo hy steeds dit kan die land se redding wees. As dit waar is, is ek bevrees ons het vreemde raadsmanne met vreemde oplossings vir die’ land se probleme. Hoeveel kos ‘n plekkie op een van daai rubberbootjies vir ‘n rit oor die Middellandse see?

Sputnik ·

Ek sien dikwels die ongelooflike verskil tussen ‘n munisipaliteit waar die ANC probeer regeer (Pretoria) en een waar die DA in beheer is (Mosselbaai). Nou wel ‘n groot verskil in grootte, maar nogtans. Probeer albei telefonies skakel oor dieselfde probleem en ervaar dit eerstehands! Jy is baie, baie gelukkig as jy by ‘n persoon uitkom in Pretoria. Indien wel, skakel hy/sy jou net deur na ‘n nommer wat nooit beantwoord word nie. ‘n Ander truuk is dat hul die handstuk optel en net langs die foon neersit en aanhou babbel.

Jcwf ·

Enkosi, mnr. Kodwa. Dit moet vir mense soos jy bitter wees om te sien wat met die party waarvoor jy gestruggle het gebeur het. Die ANC het ‘n oseaan van gebreekte beloftes geskep.

Jan maak n Plan ·

Dit het myns insiens nog nooit oor mag gegaan nie maar wel oor self verrykking. Wys my asb net een wat nie die soustrein melk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.