‘Onbeholpe regering’ bedreig voedselsekerheid

(Argieffoto: Reint Dykema)

Die georganiseerde landbou in Suid-Afrika is “keelvol vir die totale ontkenning van landbouers en hul behoeftes”, en vra dat die regering sy kant begin bring om die bedryf te help. Só het die organisasies TLU SA en Agri SA Donderdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die organisasies sê die inperkingsmaatreëls stel uitsonderlike eise aan die land se veiligheidsmagte, maar tog word die ondersteuning wat die landboubedryf in dié opsig aanbied van die hand gewys.

Die departement van landbou het intussen bevestig dat veilings wel toegelaat word. Dit nadat die polisie gedreig het om ʼn klomp boere Dinsdag by ʼn veiling in die Vrystaat in hegtenis te neem.

Die organisasies sê terwyl die regering sloer, ly boere groot verliese weens ʼn drastiese toename in produk- en veediefstal, asook die onwettige slagting van vee en plundery op plase.

Hulle talle versoeke aan die polisie en die departemente van landbou en samewerkende regering en tradisionele sake dat plaaswagte as ʼn noodsaaklike diens onder toesig van die polisie ingesluit moet word, het tot dusver op dowe ore geval.

Hulle sê terwyl die regering voete sleep is die boerderygemeenskap aan sy eie lot oorgelaat.

“Dit is tog insiggewend dat die regering hom tot die boerderygemeenskap wend om te help met die voorsiening van vars produkte aan behoeftige gemeenskappe. Terwyl produsente en plaaswerkers hieraan gehoor gee en ruim bydraes maak, steur die regering hom nie aan georganiseerde landbou se versoeke tot sekere wysigingsvoorstelle aan die inperkingsregulasies om voedselproduksie te beskerm nie,” lui die organisasies se verklaring.

(Foto: TLU SA/Facebook)

Die minister van polisie weier tot dusver om landelike beveilingstrukture – ten spyte van herhaalde pleidooie uit verskeie oorde – toe te laat om by die polisie se misdaadvoorkomingsoperasies in te skakel.

Die landbouorganisasies sê die toenemende onvermoë van staatsdepartemente soos die polisie en dié van openbare werke om op hul versoeke te reageer, is skokkend.

“Terwyl mense se geld opraak om kos te koop gaan honger mense hulle al meer wend tot diefstal wat die potensiaal het om te lei tot ernstige konflik, omdat die boerderygemeenskap sy eiendom sal beskerm, terwyl die polisie se fokus nou die toepassing van die regulasies in dorpe, stede en op hoofroetes is.

“Die onvermoë van die polisie om effektiewe polisiëring en wet en orde in landelike gebiede toe te pas, lei daartoe dat produsente nou noodgedwonge groot onkoste moet aangaan om sekuriteitsmaatreëls te tref om self voedselproduksie te beskerm.”

Die organisasies sê daar was verskeie klagtes uit talle provinsies dat die polisie nie meer by pro-aktiewe polisiëring betrokke is nie, dat gerapporteerde sake nie ondersoek word nie en dat slagoffers verdagtes sélf in hegtenis moet neem in ʼn poging om die polisie te oortuig om sake te ondersoek.

Hulle sê polisielede op plaaslike vlak interpreteer regulasies boonop verskillend.

Polisielede op patrollie in Gauteng. Die landboubedryf sê hulle word aan hul eie genade oorgelaat. (Foto: SA Polisie)

“TLU SA en Agri SA spreek hulle dank uit teenoor lede vir voortgesette voedselproduksie onder moeilike omstandighede en wat toesien dat kos deurlopend beskikbaar is. Albei organisasies spreek ook hulle dank uit teenoor baie polisiebeamptes wat in dié moeilike tyd uit hul pad gaan om die gemeenskap te ondersteun en aanhou om goeie werk te lewer.

“Dit is tot ʼn groot mate te danke aan die boerderygemeenskap dat daar nog nasionale stabiliteit in die land heers, omdat genoeg kos deur die landbou, selfs in die inperkingstydperk, geproduseer word. Daarom is dit ook van nasionale belang dat die land se voedselproduksie beskerm moet word teen misdadigheid, sodat voedselsekerheid gehandhaaf kan word.”

Veilings

Dit is ook nie net veiligheidskommer wat sake vir boere bemoeilik nie. Maroela Media het vroeër berig dat ʼn groep boere van Frankfort in die Vrystaat met inhegtenisneming gedreig is toe hulle ʼn veeveiling bygewoon het. Die polisie het die veiling stopgesit.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die minister van landbou, Thoko Didiza, het gesê veilings vorm deel van die landboubedryf wat as ʼn noodsaaklike diens geklassifiseer word.

“Die kwessie van die polisie wat dreig om boere in hegtenis te neem is een wat ons op ʼn daaglikse grondslag moet hanteer. Die kwessie hang af van wetstoepassers op voetsoolvak se interpretasie daarvan,” het hy gesê.

(Foto: DA/Twitter)

Hy het gesê Didiza het die kwessie reeds met haar eweknieë op kabinetsvlak opgeneem en wag op hulle terugvoer.

Volgens Ngcobo moet afslaers voldoen aan die Covid-19-veiligheidsmaatreëls wat die departement van landbou en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake afgekondig het. Dit sluit in dat sosiale distansiëring gehandhaaf word, dat mense maskers dra en dat daar nie meer as 50 mense by ʼn veiling byeen mag wees nie.

Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement van landbou, het intussen Woensdag in ʼn amptelike skrywe gesê dat Suid-Afrika tans onder groot druk verkeer en dat die landbou nie net tot ekonomiese groei bydra nie, maar ook tot voedselsekerheid.

In die skrywe sê Mlengana alle veilings word toegelaat, maar die verkoop van enige alkohol daar is verbode.

Die verkoop van alkohol word in dié stadium landwyd verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jacobus ·

My eerlike waarneming is dat elke tweede amptenaar nou sy eie reĕls uitvaardig. Strek van warm kos tot verkoop van gis. Die vernietiging van ekonomie het nou die nuwe nasionale sport wat reĕls oor landbou insluit.
Kan ons nie dinge wat werk maar uitlos nie.
Mens wonder of daar ‘n meesterplan agter alles sit.

Scalla ·

Net nog n bewys dat hul nie n clue het wat van hul verwag word in sekere tye nie, en dit duur al die afgelope 26 jaar.

Elsa ·

Jacob Zuma: melk kom nie van koeie, dit kom van Checkers.
So ook kaas, vrugte, groente, mieliemeel, suiker, brood……

Willem ·

Miskien moet die boere net vir twee weke ook ophou werk – laat die regering kan uitvind waar kom die kos vandaan!

marius ·

Hierdie mense weet presies waarmee hulle besig is , en wat die gevolge gaan wees .

Gerhard ·

Nee Marius ek verskil…die spul het geen idee wat aangaan nie…die afgelope 26 jaar is bewys daarvan.

Termiet ·

Marquis is reg, hulle gebruik die virus om SA in ‘n kommunistiese staat te omskep.

Leon ·

Waarom het Agri SA vanmiddag hom van hierdie verklaring onttrek?Wil graag die rede weet.

Louis ·

Dit was ook opmerklik dat Cyril Ramaphosa weereens gisteraand uitdruklik plaaswerkers bedank het, maar net soos in sy vorige aankondiging uitdruklik nie die kans gebruik om ook die boere te bedank nie. Selfs temidde van die krisis is hy nog altyd besig met ‘n politieke spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.