Onbekende skieters teiken glo familie, vier sterf

(Argieffoto: pixabay)

Die skietery Saterdagmiddag op vyf mense, glo familielede, naby Tsolo in die Oos-Kaap, het skokgolwe deur die gemeenskap uitgestuur. Vier van die vyf is dood in die voorval.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê voorlopige verslae dui daarop dat drie onbekende mans die middag omstreeks 17:45 in ʼn silwergrys Toyota-dubbelkajuitbakkie by ʼn opstal in die Magutywa-gebied noordwes van Tsolo opgedaag het. Daar was in daardie stadium ʼn tradisionele seremonie by die opstal aan die gang.

“Twee van die verdagtes, wat na bewering ʼn AK47-geweer en ʼn pistool by hulle gehad het, het uitgeklim terwyl een in die bakkie bly wag het. Die verslag dui daarop dat die verdagtes, sonder om ʼn woord te sê, op drie mans op die erf losgebrand het. Hulle het net daar op die toneel aan hul wonde beswyk,” het Kinana gesê.

Die drie oorledenes was tussen die ouderdom van 28 en 78 jaar oud.

Kinana sê die verdagtes het daarna in dieselfde gebied ook ʼn 28-jarige man geskiet. Die man is ernstig gewond en in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir dringende mediese hulp.

“Volgens inligting is die verdagtes vandaar na ʼn huis daar naby waar hulle ʼn 73-jarige  man, vermoedelik familie van die eerste vier slagoffers, doodgeskiet het.”

Die moorde is by die polisie in Tsolo aangemeld. Die motief is nog nie bekend nie en niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris in Oos-Kaap, het beveel dat ʼn geïntegreerde polisietaakspan saamgestel moet word om die ondersoek te prioritiseer.

Die polisie-ondersoek duur voort, het Kinana gesê.

Enigiemand met meer inligting wat tot die skuldiges se inhegtenisneming kan lei, kan die polisie se misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

WILDE WESTE HIER EN ALLES TE DANKIE AAN ANC / EFF – DIT IS DIE VOORBEELDE WAT GESTEL WORD DEUR HULLE. SO DIE MOORDE VAN DIE ONSKULDIGE MENSE WORD VOOR HULLE DEURE GELE – ANC / EFF MOORDENAARS VAN SUID AFRIKA

Kalla

Hoe siek?