Onbekende vrou uitgeken met Maroela Media se hulp

Die onbekende vrou is as Elchenette Rademeyer (26) uitgeken. Profiel: SAPD

Die onbekende vrou is as Elchenette Rademeyer (26) uitgeken. Profiel: SAPD

Die liggaam van die jong vrou wie se liggaam twee weke gelede buite Pretoria gevind is, is uitgeken nadat Maroela Media Woensdag inligting van die polisie gepubliseer het waarin hulle hulp versoek het om haar te identifiseer.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê verskeie pogings is tevergeefs deur die Erasmia-polisiestasie aangewend om die slagoffer te identifiseer en haar familie op te spoor nadat haar liggaam op 13 September op die oewer van ʼn rivier in die omgewing van die Hennops Pride-woonwapark, langs die R511-pad, noordwes van Centurion, gevind is.

Die polisie se slagofferidentifikasiesentrum het ʼn profiel van die vrou opgestel om aan die media te verskaf in ʼn poging om haar identiteit met die hulp van die publiek te bepaal.

ʼn Leser het Maroela Media se berig gesien, die oorledene se profiel herken en haar familie in kennis gestel.

“Haar liggaam is Donderdagoggend deur haar pa uitgeken as dié van Elchenette Rademeyer (26). Haar familie het haar nie as vermis aangemeld nie aangesien sy nie by hulle gewoon het nie en hulle nie bewus was van die voorval nie,” het Moloto gesê.

Rademeyer se pa het aan Maroela Media gesê die familie wil nie kommentaar lewer nie tot en met die polisie se ondersoek afgehandel is.

Maroela Media het Woensdag berig ʼn ooggetuie het die polisie op 13 September ontbied en gesê sy het tussen 09:00 en 10:00 twee mans en ʼn vrou gesien waar hulle die liggaam van ʼn wit vrou in die rivier gooi. Volgens die ooggetuie het die drie verdagtes in ʼn blou Audi A3 gery. Die registrasienommer van die motor is nie bekend nie.

Moloto het gesê ʼn nadoodse ondersoek is gedoen en die polisie wag nog vir die uitslae om te bepaal hoe sy dood is. “Sy het sigbare merke aan haar liggaam gehad, maar die oorsaak van haar dood kan nie bevestig word voordat die uitslae van die nadoodse ondersoek bekend is nie,” het Moloto gesê.

Die Erasmia-polisie ondersoek ʼn saak van moord. Hulle het ʼn beroep gedoen op mense wat hulle kan bystaan in hul ondersoek om die ondersoekbeampte, konst. Moima, by 083 317 7150 of die Erasmia-polisie by 012 370 1777 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Baie mooi Maroela dit wys jou hoe baie mense lees julle nuus mag julle net groei en meer lesers kry

Dee ·

Maar kommentare word verwyder sonder logiese redes wat neig om te dui op oordrewe poliltieke korrigering en die spoed breek van ‘n blad wat ‘n wenner behoort te wees.

Streicher ·

Ek stem ook saam jou Dee. En moet nie eers die moeite doen om n email te stuur en vra hoekom nie? Hulle het nie eers die ordentlikheid om te antwoord met n rede nie.

Petro ·

Ek sien op Google die vrou (indien dit dieselfde vrou is) het gaan yoga klasse aanbied by Kgosi Mampuru tronk op May 29 2015 sjoe wonder of dit nie dalk iemand van daar af is wat haar kon vermoor nie.Baie bly dat sy geidentifiseer is.RIV Vrou!!!!

Mercy ·

@Petro … Dit is sy, as jy op die foto in zoom sien jy die tattoo op haar nek

Anel ·

Ek het haar ook gegoogle en ook op die yoga klas afgekom in Pretoria gevangenis. Dis dalk hoekom die pa geen komentaar wil lewer nie. Dalk n probleem kind gewees….maar maak nie saak wie of wat jy is of word nie n mens gooi mekaar nie weg nie. Dis hartseer. Ek hoop hulle kry die mense wat haar weg gegooi het.
Sterkte vir die familie.××

Anna ·

So tragies, mens leef so bymekaar verby. Sterkte aan familie.

Peet Schabort ·

BLOU Audi ?
Dalk tyd dat die kleur(e) van voertuie ook registreer moet word ? Mooi so Maroela, wys net die mag van die media.

Dave ·

Dink dit word gedoen, Peet. En as die spuitverwer, paneelklopper of backyard mechanic die kleur verander, gaan hulle aandring op herregistrasie voor oorhandiging? Nuwe kleure word gekoop in kannetjies vanaf die rak.

Nadine ·

Ek wens die familie alle sterkte toe deur hierdie baie moeilike tyd

aletta ·

Ag dis so hartseer! Ek dink altyd so kan dit my kind, of kleinkind wees. Aan die ouers familie en vriende , my innige meegevoel!! Baie sterkte

EMK ·

Ai mense, ons moenie ons familie vergeet nie… dis al wat ek kan sê. Hoe leef mens so verby mekaar dat jy iemand nie mis in ‘n tydperk van 2 weke nie. Dis baie hartseer hoe die lewe is en hoe mense soms net op hulself ingestel is. Bel mekaar darem net so elke 2e – 3e dag, wees lief vir mekaar – moenie spyt wees as dit te laat is nie…

SSSSHHHHH ·

Moet eerder nie kommentaar lewer as jy nie die mense ken nie. Jy weet nie hoe hard het hierdie vrou se ma probeer nie. Jy weet nie wat die regte storie is nie. Maroela maak nes Beeld en sensasionaliseer nou ‘n baie hartseer storie wat jare en jare se “back story” het. Jy kan nie ‘n familie se geskiedenis in twee of drie paragrawe oordeel nie. Jy weet nie…

LB ·

Amen, ek stem saam, moeilike tye was daar wel, sy was n pragtige mensie, RIV . Sy sal waarlik gemis wordl

CHRISTA ·

. . . . en dit skaars nadat ons land se moordsyfers bekend gemaak is!!! Een van die dae sal die uitslae 100 moorde per dag oorskry – dis mos een van ons land se nasionale sporte!!!

SNEL ·

Wat n besonderse mooi naam het sy nie, Elchenette. Dis vir my so hartseer dat so mooi jong vroutjie op so manier deur ongevoelige mense hanteer is. Wat het sy nou gedoen of wat was die rede dat sy dood gemaak is en net so in n rivier gegooi word. Twee mans en n vrou, miskien was die een nog n kêrel en die ander twee van haar vriende. Dis vreeslik dat n lewe net niks meer werd is nie. In Genesis 4:10 sê die Here: Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. Ek wonder hoe skreeu al die stemme oral op deesdae. Dis erg soos moorde plaasvnd. Dis vreeslik dat haar familie op so manier van haar dood moes verneem het. Baie sterkte aan julle almal en ek hoop julle kry antwoord op al julle vrae.

Nella ·

Begin sommer soek by haar FB vriende, daar is nogal n paar karakters

Hannelie ·

Sterkte aan oom Tienie en die res van die familie. Weet dit is nie ‘n lekker tyd nie. Mag jul vertroosting en berusting vind.

Phillip ·

Dagsê Mercy

Ons sal met die polisie opvolg en hoor of daar enige vordering is. Hou gerus Maroela Media dop vir ‘n opvolgberig.

Groetnis

Phillip Bruwer (Joernalis)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.