‘Onbekwame’ Nersa laat SA hoes vir duurder krag

Verbruikers moet regmaak vir ‘n skerp styging in kragpryse. (Foto: Eskom/Twitter)

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit om ʼn 15%-verhoging aan Eskom toe te staan is ʼn klap in Suid-Afrikaners se gesigte, meen kenners. Veral in die lig van die Covid-19-pandemie en die uitwerking daarvan op mense se vermoë om ʼn inkomste te verdien en hulle rekeninge te betaal.

Maroela Media het vroeër berig kragpryse gaan in April na verwagting skerp styg nadat ʼn skikkingsooreenkoms tussen Eskom en Nersa ʼn hofbevel gemaak is. Ingevolge die bevel sal ʼn gemiddelde prysstyging van ongeveer 15% in die elektrisiteitstarief vir standaardtariefklante van 1 April in werking gestel mag word. Dit is nog 5,44c per kilowattuur wat by die standaardtarief gevoeg word.

Eskom mag volgens die skikking R10 miljard van verbruikers verhaal.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê Nersa se onbevoegdheid om akkurate kragtariewe wat koste weerspieël vas te stel, is al in verskeie hofsake blootgelê.

Hy sê daar moet vasgestel word dat Nersa die nodige vaardigheid het om die vasstelling in die toekoms doeltreffend te doen.

“In hierdie geval het Nersa oorgegee en Eskom se eis aanvaar.”

Ted Blom, ʼn energiekenner, stem saam.

Hy sê die skikking is aangegaan omdat Nersa dit in die eerste plek nie teengestaan het nie en dat dit as ʼn vorm van samespanning gesien kan word.

“Wat my betref is dit growwe pligsversuim,” sê Blom.

Hy sê dit is hoog tyd dat verbruikers, wat nou die las van ʼn 15%-verhoging moet dra, hul stem begin dik maak.

Mileham sê dit is Suid-Afrikaners wat uiteindelik die rekening betaal vir die regering se versuim om kragopwekking en -verspreiding te hervorm en die bedryf beter te reguleer.

“Pleks daarvan om kragvoorsiening vir mededinging oop te stel, het die ANC en Nersa die monopolie wat kragopwekking in Suid-Afrika beheer, die afgelope 25 jaar verhoog.

“Die ANC en Nersa maak dit toenemend moeilik en plaas nog meer hindernisse op die pad na ware mededinging, eerder as om dit makliker te maak vir nuwe toetreders om krag te voorsien – en die las van beurtkrag te verminder.”

Mileham sê die enigste manier om die koste van elektrisiteit op die duur te verminder, is om mededinging in die bedryf te verhoog.

Hy sê die DA dien later vanjaar die Wetsontwerp op Goedkoper Elektrisiteit by die parlement in, in ʼn poging om die koste van krag te help verminder.

Die party vra ook vir die desentralisering van kragtoevoer om munisipaliteite met die tegniese en finansiële vermoëns om hul eie krag op te wek toe te laat om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Net soos die opskrif daar sê.‘Onbekwame’ Nersa laat SA hoes vir duurder krag

Tipper

Nou sit ek maar my mieliemeel se prys ook op wat.

Dries

Waar gaan ons die geld vandaan kry

Persheks Adri

Voetsek die hele lot van julle useless klomp! Alles waaraan hulle vat IS ‘n gemors

koos10

Hordes mense insluitend staatsamptenare het geen salaris verhoging gekry nie, en baie mense moes noodgedwonge salaris aanpassings afwaarts vat, maar die regering gaan voort om alles wat hulle beheer se pryse opwaarts aan te pas.