Onbenutte staatsplase ‘bevestig onteiening sonder vergoeding sal misluk’

(Foto: Spencer Pugh/Unsplash)

Die burgerregtegroep AfriForum sê die regering se erkenning dat amper 900 plase van sowat 700 000 ha onderbenut word of ongebruik lê, bevestig dat die regering se poging om meer radikale grondhervorming in die vorm van onteiening sonder vergoeding deur te voer, op ʼn ramp afstuur.

Thoko Didiza, die minister van landbou, het Donderdag die proses bekend gemaak wat opkomende boere moet volg om aansoek te doen vir die gebruik van beskikbare staatsgrond.

Die regering sal binne die volgende twee weke advertensies vir altesaam 896 plase uitreik. Hiervan is 43 000 ha in die Oos-Kaap, 8 333 ha in die Vrystaat, 3 684 ha in KwaZulu-Natal, 121 567 ha in Limpopo, 40 206 ha in Mpumalanga, 12 224 ha in die Noord-Kaap en 300 000 ha in Noordwes. Geen grond in Gauteng of die Wes-Kaap sal geadverteer word nie.

Ingevolge die ooreenkoms wat suksesvolle aansoekers met die staat aangaan, kan die grond vir 30 jaar gehuur word, waarna die huurder die opsie het om die grond te koop. Die grond mag onder meer glad nie onderverhuur word nie, alle infrastruktuur moet onderhou word en ʼn maandelikse bedrag huurgeld moet in ooreenstemming met die grond se waarde aan die staat oorbetaal word.

AfriForum sê egter die grond word nie geprivatiseer nie, maar beskikbaar gestel in die vorm van huurpagte. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê die regering se optrede wys dat hy nie grond in private eienaars se hande wil plaas nie. Hy sê dit is ook nie eens om voedsel- of ekonomiese sekerheid te verseker nie, maar om die staat die eienaar van die grond te maak. Volgens hom sal die staat dan besluit hoe die grond bestuur moet word.

Roets sê dit is bevestig toe die regering vroeër toegegee het dat meer as 90% van grondhervormingsprojekte misluk het, maar dat hy nie van stryk gebring sal word om met staatsgedrewe grondhervorming voort te gaan nie. Hy sê dit is weer bevestig toe dit bekend geword het dat slegs 6% van die landbougrond wat deur die staat bekom is in private eiendom omgeskakel is. Roets sê dis nou wéér bevestig deur die regering se aankondiging oor die 900 plase en hoe dit hanteer sal word.

“Dit is asof die regering glo dat ’n mislukte regeringsbeleid skielik sal werk as dié beleid net meer aggressief deurgevoer word – boonop met die blinde vertroue dat dit nie bloot tot ’n meer aggressiewe mislukking sal lei nie,” sê Roets.

Hy sê ook AfriForum glo dat ongeregtighede met betrekking tot grond reggestel behoort te word deur eienaarskap van die grond te vestig in dié wat van die grond ontneem is, eerder as die staat. Dit moet egter met vergoeding plaasvind en verskil van blinde herverdelingsprogramme wat op ras gegrond is.

“Die staat jaag rasseteikens egter onbeheerd na, ongeag die vernietigende impak daarvan op die samelewing in geheel.”

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê hoewel die party die departement se aankondiging verwelkom, kan dit nie slaag as bestaande opkomende boere op staatsgrond nie titelaktes en verblyfsekerheid het nie.

Steyn sê die DA het al herhaaldelik gevra dat die staat grond beskikbaar stel, maar dat die projek dwaas sal wees as landbouers wat reeds op staatsgrond boer, se toekoms onseker bly.

“Ons is bewus van boere wat briewe gekry het om die grond waarop hulle al jare lank werk, te verlaat,” sê sy.

Volgens haar is ʼn vorige projek van die staat nooit behoorlik in werking gestel nie en die meeste boere het nooit geldige huurkontrakte ontvang nie. Dié boere kan nou die grond kwyt wees omdat ʼn amptenaar besluit dit word onderbenut.

“Die staat het deurlopend versuim om dié boere met die meeste basiese steun, soos die tydige hernuwing van huurooreenkomste sodat hulle ʼn produksielening kan kry, te help.”

Die regering het koopkontrakte ook eensydig verander, wat talle boere gefrustreerd en sonder die vermoë om die grond ten volle te benut, gelaat het.

Die DA wil nou met die minister vergader om die volle uitwerking van die nuwe huurooreenkomste op boere wat reeds op staatsgrond boer, te bespreek. Die party vra ook vir ʼn lys van alle boere wat reeds briewe gekry het om van die grond te trek.

Steyn sê die projek kan net slaag as dit deursigtig is – iets wat in hierdie stadium nie die geval is nie.

“Soos sake nou staan, voorspel die minister se aankondiging niks goed vir boere wat tans op staatsgrond boer nie, of diegene wat ongelukkig genoeg is om in die toekoms met die minister en haar departement deurmekaar te raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adam Adriaan ·

Buite blink binne stink. Dit is die kommunistiese beleid wat slaaf nagevolg word. In der ewigheid sal die kommuniste ANC/EFF nie troe gee aan die idee dat grond per titel akte oorgedra word aan die privaat individu nie. Dit is hoekom die land in so ‘n chaos is. Niks werk nie. Hoekom? Omdat die staat alles wil beheer en hulle kan nie eers ‘n partytjie in ‘n brouery organiseer nie. “Our people” moet arm bly en verslaaf wees aan die staat. net die Elite daarbo kan maak soos hulle smaak. Praat van slawnery. hier ‘n die beste voorbeeld wat voor ons oë afspeel.

Persheks Adri ·

Jy kon dit nie beter sê nie 100% in die kol!

Hulle gaan plak nie plant nie dit kan ek jou belowe. Wie gaan elke dag kyk of die reëls na gekom word en nie sub verhuur nie? Die IK darem…

Jaco ·

Onthou tog net, wat op ‘n kaart aangedui word as a staatsplaas is dikwels berge en ander grond rondom opgaardamme wat as ‘n soort “spons” dien om reen en grondwater op te vang en dan syfer dit na die damme toe. Weet die ANC en die DA dit? Daardie plase KAN NIE vir grondhervorming gebruik word nie.

Ria ·

As die “staat” eerlik is met homself, sal hy moet bieg dat niks wat deur hulle beheer word tot dusver n sukses was nie. Hoekom sal dit anders wees met grondhervorming. Hulle het net een woord in hulle woordeskat “BEHEER”

Scalla ·

Ria, hulle is geldhonger, stel nie belang in grond nie, vernaam as daar niks op is om te plunder nie.

AlWeerSo ·

Zimbabwe het mos klaar gewys waarvoor ons moet regstaan, weet nie wat verwag ons anderste nie? Dit is al wanneer daar rus sal wees, as daar net stof en korrupsie oor is!

LiveAndLetLive ·

Dit is omdat die regering alles wil ryp druk, jy kan nie wat 100 jaar gaan neem in 30 jaar laat gebeur nie man

Sarel ·

Die Staat jan dit nur bestuur nie. Al wat kom Informeke Nedersettings en Misdaad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.