‘Onbevoegde regering’ wil radikale wetgewing instel – VL

(Foto: Maroela Media)

Vrystaat Landbou (VL) het gekap na die “onbevoegde” regering wat uit ʼn posisie van swak staatsbestuur radikale wetgewing voorstel wat grond en ander eiendom sentraliseer in dié einste swak regering.

Die organisasie sê die minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, het onlangs bekend gemaak dat 35% van senior staatsamptenare in die staatsdiens nie oor die nodige kwalifikasie beskik nie. VL sê terselfdertyd het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, tydens ʼn vergadering met die Mkhululi-AfriForum-vereniging, bestaande uit 37 boere, erken daar is korrupsie in die departement.

VL sê dit blyk dat boere hul huurkontrakte kwyt was ná ʼn eis dat hulle R250 000 aan sogenaamde administrasiegeld moes betaal. Volgens Didiza was sommige van die uitsettingsbevele “duidelik misdadig” en was daar ʼn gebrek aan kommunikasie tussen haar departement en boereverenigings.

Didiza het ook erken dat uitsettingsbevele net met ministeriële goedkeuring deurgevoer kan word – iets wat afwesig was in die geval van die betrokke boere.

Die organisasie sê hy het reeds in Julie verlede jaar aan Didiza geskryf oor die eise vir die kwansuise administrasiegeld. Pogings om te onderhandel is geïgnoreer, soos in die geval Thabani Nxumalo.

Nxumalo het skriftelik aangebied om uit sy pos as Eskom-ingenieur te bedank, nadat hy aangesê is dat hy as staatsamptenaar nie kwalifiseer vir die staatsgrond waarop hy reeds meer as 15 jaar lank boer nie. Nxumalo se aanbod is geïgnoreer en hy is aangesê om die plaas te verlaat.

VL sê gevalle soos dié dui op ʼn kommerwekkende gebrek aan aanspreeklikheid van die plaaslike regering en ʼn gebrek aan doeltreffende bestuur van staatsgrond. Die organisasie sê die behandeling van die 37 boere skep ernstige vrae, veral gesien in die lig van die dreigende wetsontwerp op onteiening sonder vergoeding in die parlement.

“Gegewe bestaande korrupsie en onbekwaamheid in die bestuur van staatsgrond, wat is die implikasies sodra onteiening sonder vergoeding in beweging gesit word? Die moontlikhede vir verdere korrupsie en wanbestuur lyk duidelik, met uiters ontwrigtende gevolge vir die lewens van alle opkomende en nuwe boere,” sê Wilken.

Hy sê VL beskou die voorbeeld van die 37 boere as ʼn oproep om stappe teen onteiening sonder vergoeding te doen.

“Hierdie saak moet die staat se onbevoegdheid toon om sy plaaslike verteenwoordigers aanspreeklik te hou en korrupte praktyke te voorkom. Boonop het die potensiële omwenteling van boere se produksie aansienlike implikasies vir die hele land, aangesien sulke omwentelinge onvermydelik op die mark weerspieël sal word. Dit is dus noodsaaklik om standvastig teen onteiening sonder vergoeding te staan, wat VL sal aanhou doen.”

VL het vroeër reeds sy kommer uitgespreek oor die staat se onbevoegdheid om die land behoorlik te regeer en sê in hierdie omgewing wil die regering radikale ekonomiese wetgewing skep en die Grondwet wysig.

Die organisasie sê landbou sal nie toelaat dat die onreg ongetoets en sonder weerstand voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ansie ·

Het die ANC nie die land en ekonomie al genoeg opgefoeter nie. Nou wil hulle nog meer drakoniese SEB-maatreëls instel. Is hulle werklik te onnosel om te besef dat SEB – soos dit tans toegepas word en soos hulle verder beoog – alreeds die wortel van die kwaad is? Dis nie asof hulle bevoegde en verantwoordelike mense aanstel nie. Hulle het ‘n president aangestel wat skaars graad 5 agter sy naam kon skryf en kyk watse probleme het hulle nou. Wat moet gebeur dat hulle leer uit hulle foute?

JM ·

Mag die Here ons land genadig wees! Dinge kan waaragtig nie so voortgaan nie!

Fritz ·

Kry vir dapper Dan Kriek om met die ANC te gesels. Hulle is mos lekker pêllie-pêllie.

Karel Kobus Kruger ·

VL se lede moes meer amok gemaak het by Senekal. Die regering weet nou julle sal nooit byt nie, maar net blaf. Maar toe word daar mos eerder gebid en gebraai.

Pieter ·

Ons blankes loop en slaap ou kriek sal nog kom sien wat is n kommunis en terroris. Ons wat op die grens was weet hoe werk en dink n terroris en dit is presies wat die gemors ANC doen.

Pieter ·

Eskom ingenieur boer op staatsgrond. Met sy vergoeding kan hy self grond aankoop en die grond aan ‘n meer behoeftige persoon afstaan. Ry die soustrein. By my werk word amptelike werk en boer as ‘n tipe konflik van belange beskou, alhoewel slegs toepaslik op sekere individue.

Jedi Knight ·

Ek stel voor VL (en sommer TLU ook) begrawe die “morele hoëgrond” en begin met iets anders. Die regering verstaan net een taal…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.