Onderhandelings met Pikitup-werkers val weer vas

Pikitup-werkers het tydens hul staking in Maart 2016 vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Pikitup-werkers het tydens hul staking in Maart 2016 vullisdromme in die strate omgekeer (Hoek van Jeppe- en Von Brandisstraat in Johannesburg se middestad) Foto: Siphelele Dludla/ANA

Onderhandelings tussen die Johannesburgse vullisverwyderingsmaatskappy Pikitup en stakende Samwu-lede het laat Donderdag weer vasgeval.

Ongeveer 4 000 lede van die munisipalewerkersvakbond staak al sedert 9 Maart.

Pikitup beskuldig Samwu dat hulle nie buigsaam is in die onderhandelings nie en die vakbond voer aan die maatskappy onderhandel te kwader trou.

Maroela Media het vroeër berig Pikitup het Donderdag gesê sy Samwu-lede het hul Maart-salarisse ontvang, ondanks die onbeskermde staking vir die grootste deel van die maand, maar bygevoeg die maatskappy sal volgende maand salarisse terughou volgens die beginsel van geen werk, geen betaling.

Samwu-lede by Pikitup eis salarisverhogings van tusen R6 000 en R10 000 per maand en dat die besturende direkteur van die maatskappy, Amanda Nair, moet bedank.

Dit is die vierde staking sedert November 2015 oor dieselfde kwessies.

ʼn Hof het Nair vrygespreek op enige aanklag van korrupsie.

Intussen betaal die stad Johannesburg ongeveer R1 miljoen aan kontrakteurs om die vullisverwydering te hanteer. Samwu-lede het waarskuwings oor afdanking van Pikitup en ʼn versoek deur die vakbond se nasionale kantoor om terug te keer werk toe, geïgnoreer. Hulle het ook twee interdikte van die arbeidshof, om die staking te beëindig, verontagsaam. Die werkers het betogings in Johannesburg se middestad en Braamfontein gehou en verwoesting gesaai deur munisipale eiendom te beskadig en asblikke om te keer.

Samwu-vakbondverteenwoordigers wat met die staking verbind word, word deur aanklagtes van growwe wangedrag in die gesig gestaar nadat hulle glo hul Pikitup-kollegas aangemoedig het om deel te neem aan ʼn vorige onwettige staking op 4 en 5 Februarie. Hulle het vandeesweek voor die tugkomitee verskyn waar hulle aangekla is van growwe wangedrag wat verband hou met die stakings in Desember 2015, Februarie 2016 en Maart 2016.

Die Johannesburgse metropolisie is versoek om Pikitup-vragmotors met tydelike werkers te vergesel om moontlike aanvalle af te weer nadat daar vroeër op die maatskappy se vragmotors geskiet is.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.