Onderhoofseun sê jammer oor pro-Palestynse foto

Joshua Broomberg (regs). Foto: Facebook

Joshua Broomberg (regs). Foto: Facebook

Joshua Broomberg, onderhoofseun van die King David High School in Victory Park, het om verskoning gevra nadat ‘n foto op sosiale media versprei is waarin hy sy teenkanting wys oor geweld teen Palestyne.

“Dit was ‘n leergeleentheid vir die 17-jarige leerling en hy het sy siening verduidelik en opreg om verskoning gevra vir die seer wat dit veroorsaak het,” het die Suid-Afrikaanse Raad vir Joodse Onderwys in ‘n verklaring gesê.

In die foto het Broomberg en twee ander leerlinge tradisionele Palestynse serpe aan. Die drie is in Thailand afgeneem waar hulle aan die Wêreldskole-debatkompetisie deelgeneem het.

Onderaan die foto staan: “Team South Africa wearing Palestinian badges and keffiyehs to show our opposition to human rights violations carried out against the people of Palestine. #WSDC2014”

Die raad sê hy beskou die saak as afgehandel en dat geen verdere stappe geneem sal word nie.

“Ons erken dat die foto wat geplaas is, onsensitief en kwetsend was en as sodanig gesien is in die gemeenskap. Ons waardeer sy verduideliking aan die gemeenskap en hy het ook sy skool om verskoning gevra vir sy optrede. Sy verskoning is aanvaar,” het die raad gesê.

Die raad het hom Maandag distansieer van ‘n aanlynpetisie, wat eis dat Broomberg as onderhoofseun verwyder moet word.

Die raad, wat die skool bedryf, sê besluite wat by die skool geneem word en die interaksie met studente moet nie bepaal word deur druk as gevolg van ‘n “aanlyn-storm” nie.

Broomberg het ook op sy Facebook-blad om verskoning gevra vir die foto en gesê dit het nie ten doel gehad om ‘n “oproer te veroorsaak” of “aanstoot” te gee of te “ontstel” nie.

Hy het wel gesê hy is ‘n trotse Suid-Afrikaanse Jood, trots daarop om ‘n Joodse-skool by te woon en dat hy ‘n Sionis is.

Broomberg sê hy glo in Israel se reg om te bestaan en vir die land om homself te verdedig, terwyl alle burgers in Israel, die Wes-Bank en Gasa ‘n absolute reg het om in vrede en veiligheid te lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eben ·

…. maar as hulle swart gesmeer was, dan was die hel eers los!!

Dalleen ·

Die mannetjie se stellings is teenstrydig.

Eers: “…to show our opposition to human rights violations carried out against the people of Palestine.”
(So, Israel wat homself verdedig = verkeerd).

En dan later: “Broomberg sê hy glo in Israel se reg om te bestaan en vir die land om homself te verdedig …”
So, Israel wat homself verdedig = reg).
?

Eugene W Steyn ·

‘n Baie redelike en intelligente optrede van die Joodse Raad – 10/10! Dis jammer dat dieselfde nie van Tukkies se bestuur en woordvoerders gesê kan word nie….

Elfie ·

Die les is maar weer: skoolkinders hou by julle boeke en leer, of beoefen sport. Dis nie te sê julle mag nie idees of opinies hê of oor dinge dink nie, maar dit was bietjie onbesonne en ondeurdag om hierdie foto te versprei op openbare media. Ook was dit eintlik verkeerd om die serpe oorsee by ‘n internasionale kampioenskap te dra by jul Joodse skool se klere en kleure – sien as mens ouer en ervare is sal jy (hopelik) dink voor jy so-iets doen. Mens mag ‘n opinie hê en dis reg, maar mens moet dink voor jy dit sommer wyd en syd verkondig. Soms is ‘n toe bek ‘n heel bek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.