Onderhoofseun sterf kort vóór matriekuitslae bekend is

Ferdie Pieterse (Foto: Verskaf)

’n Voormalige onderhoofseun van Vereeniging Gimnasium is Dinsdagmiddag op slag dood toe sy motorfiets teen ’n ligte voertuig gebots het.

Die 20-jarige Ferdie Pieterse, wat verlede jaar as onderhoofseun aangewys is, is Dinsdagmiddag omstreeks 14:11 deur paramedici in die pad gevind. Die ongeluk het op die hoek van Louis Trichardt- en Hendrik van Eck-boulevard in Vanderbijlpark plaasgevind.

Hy sou Woensdagoggend hoor dat hy matriek deur is.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, was Pieterse reeds dood met die paramedici se aankoms op die toneel. “Hy het talle beserings opgedoen. Ongelukkig was daar niks wat ons vir hom kon doen nie en hy is reeds op die toneel dood verklaar,” sê Meiring.

Pieterse se voogouer, Morné Britz, vertel hy het vanjaar by die MAN-vragmotormaatskappy in Vereeniging begin werk, waar hy hom as dieselwerktuigkundige sou bekwaam.

Britz en sy vrou het Pieterse op die ouderdom van sestien aangeneem. “Ek het hom gesien as my eie kind en hy het my ‘dad’ genoem. Hy was soos ’n ouboet vir my eie twee kinders,” vertel Britz.

Britz sê hy sal altyd veral Pieterse se pligsgetrouheid en onselfsugtigheid onthou. “Hy was altyd so dankbaar vir alles in die lewe. Hy het altyd sy kant in die huis gebring en het nooit teëgepraat nie. Hy was vir my soos ’n klein seuntjie in ’n groot lyf – altyd so kinderlik opgewonde oor als.”

Britz vertel hy het ook baie hard op skool gewerk en het die reëls gehoorsaam. “Onderwysers kon altyd op sy knoppie druk,” meen Britz.

Vir Melanie Brümmer, die leerlingraadvoog by Gimmies, was die nuus van Pieterse se ongeluk ʼn groot skok. Pieterse het verlede jaar as onderhoofseun en ook skoolleier onder Brümmer se leiding gewerk. “My hart is in stukke. Ek sal hom onthou vir sy lag en grappies. Die wêreld is definitief ’n armer plek sonder hom. Hy het in almal se harte ingekruip. Almal was baie lief vir hom en is nog steeds.”

’n Roudiens vir Pieterse sal volgende week Vrydag by die NG Kerk Arconpark in Vereeniging gehou word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Patch ·

So hartseer!! Ek as mamma van ‘n matriek seun wat vandag uitslae gekry het, kan my nie eers indink hoe sy ouers moet voel nie. My innige meegevoel.

Lizelda ·

Sjoe!!! Hoe verskriklik hartseer, ai, man. Sterkte aan al die familie, vriende en onderwysers.

Agter die skerms ·

Ferdie – dis verskriklik hartseer. RIV seun. My gedagtes is by jou familie. Dis net verskriklik hartseer dat dit so moes gebeur – Liewe Jesus moet jou daarbo se dat jy jou Matriek geslaag het.

Gesiggie ·

Ek het geen woorde… wat sal dit kan beter maak”’my Innige meegevoel aan sy ouers, sy vriende en familie” hoekom hy nooit die geleentheid gehad het om sy uitslag van matriek te kon vier” God het sy Engel kom haal… RIV Ferdie….dit baie hartseer”’

Celia Tjaden ·

Wat n pragtige jongman! So vroeg is sy lewe beeindig. My innige simpatie aan sy ouers, familie en vriende. Bid vir julle.

Claudette ·

Dit is so hartseer. My innige simpatie aan die familie. Wat ‘n pragtige seun.

Jade Storm ·

Wou net se well done Maroela Media, ek kan altyd enige tyd julle stories lees. Media24 moet mens eers subscribe en betaal vir nuus wat julle anyway klaar gedek het. Well done!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.