Ondernemings gemaan teen Covid-19- skoonmaak slenters

(Argieffoto: pixabay)

Stad Kaapstad se departement van gesondheid is besorg dat ondernemings bedrieg word vir sogenaamde skoonmaakdienste tydens die Covid-19-pandemie.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid, het gesê die stad is in kennis gestel oor ʼn beweerde slenter in dele van die stad waar klein ondernemings geteiken word deur persone wat hulself voordoen as ontsmettingsmaatskappye. “Hulle beweer hulle is in staat om die perseel te ontsmet om die onderneming en sy kliënte teen Covid-19 te beskerm. Ons het berigte van dié sogenaamde dienste ontvang in Mitchells Plain, Athlone, Bonteheuwel en Pelican Park. Ons doen ʼn beroep op sake-eienaars om na vore te kom sodat ons die omvang van die kwessie kan bepaal,” het Badroodien bygevoeg.

Hy het gesê die afsonderingsperiode het reeds ʼn ernstige impak gehad op talle ondernemings en om ondernemings op só manier uit te buit, ná die uitdagings wat hulle reeds beleef het, is krimineel. “Sake-eienaars wat onseker is hoe om hul personeel en kliënte te beskerm, word versoek om hul plaaslike omgewingsakekantoor te kontak vir raad en riglyne.”

Oppervlaktes kan met gewone seep of skoonmaakmiddels skoongemaak word en ontsmet word met ʼn mengsel van 30% bleikmiddel en 1 liter water. Personeel moet gereeld gemonitor word, hul maskers dra en by die huis bly as hulle siek voel. Enigiemand wat in kontak was met ʼn persoon wat Covid-19 opgedoen het, moet vir 14 dae in kwarantyn bly. “Waar ʼn positiewe geval in die werkplek bevestig is, kan eienaars die nasionale departement van arbeid kontak vir riglyne om te bepaal of ʼn eksterne skoonmaker vereis word.”

Badroodien het gesê Stad Kaapstad doen ook ʼn beroep op die publiek om plaaslike ondernemings te ondersteun en seker te maak hulle voldoen aan Covid-19-protokol wanneer hulle inkopies doen. “Gesigmaskers moet nie op jou ken sit nie. Dit vul ʼn belangrike rol om jou en diegene om jou veilig te hou. Ons doen ʼn beroep op die publiek om te alle tye verantwoordelik op te tree en enige voorvalle van nienakoming aan te meld. Stad Kaapstad het ʼn nakomingsinbelsentrum beskikbaar gemaak by 021 444 3528.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

As jy so dom is om hulle te glo sonder enige behoorlike dokumentasie, bloei dan maar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.