Ondernemings in Schweizer-Reneke sluit weens betoging oor misdaad

Argieffoto: SAPS, Facebook

Argieffoto: SAPS, Facebook

Sommige ondernemings in Schweizer-Reneke moes Maandag hul deure sluit nadat inwoners van die Ipelegeng informele nedersetting buite die dorp se hof oor misdaad betoog het.

Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê nagenoeg 150 mense, asook leerlinge van twee skole in die omgewing, het Maandag na die hof opgeruk. Twee mans is tydens die betoging aangerand.

“Die inwoners verdink die twee mans daarvan dat hulle aan die begin van die maand by ʼn moord in die informele nedersetting betrokke was,” het Mokgwabone gesê. “Die polisie het die situasie vinnig onder beheer gebring en die twee mans van die skare gered. Hulle is na ʼn plaaslike kliniek geneem vir behandeling en waarneming.”

Mokgwabone het gesê die eienaars van die maatskappye het hul deure vir veiligheidsdoeleindes gesluit. Na wat verneem word is geen voorval van plundery aangemeld nie.

Hy het bevestig dat die betoging onwettig was, en dat die polisie dit ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.