Onderonsie lei glo tot Jhb-skietery

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Sake van poging tot moord word ondersoek nadat sewe mense Woensdagmiddag tydens ʼn onderonsie in Johannesburg geskiet is.

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê die skietery het nie in Braamfontein gebeur soos vroeër deur paramedici beweer is nie, maar in Doornfontein.

“Volgens die voorlopige inligting het ʼn groep hawelose mense buite op die straat gelê en het ʼn man daar aangekom en vir hulle gesê om weg te gaan. Die haweloses het geweier en dít is toe die onderonsie begin het,” het Makhubela gesê.

Volgens hom het die man weggery en teruggekom met nog mense by hom. Die onderonsie het gewelddadig geraak en skote is afgevuur. Sewe van die hawelose mense is gewond. “Die gewondes is ses mans en een vrou. Hulle is na ʼn hospitaal geneem,” het Makhubela gesê.

Maroela Media het vroeër berig Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê twee van die gewondes is in ʼn kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ja hoor ·

Hulle moes geluister het. LOITERING en onwettige plakkery was nog altyd ‘n oortreding, maar deesdae is onregmatige betreding van private grond, en plakkery skynbaar glad nie meer ‘n oortreding van munisipale of enige regulasies nie. Mense raak keelvol as hulle duur vir hulle huise en dienste moet betaal en plakkers kom maak hulle tuis teenaan die plek. Haweloses dink deesdae die land behoort aan hulle, terwyl hulle nie ‘n sent uithaal vir enige dienste nie. Belaglik man. Ek dink die arme ou was KEELVOL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.