Onderrig in Vuwani Maandag hervat

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Al die nodige reëlings is getref sodat onderrig by skole in die Vuwani-gebied in Limpopo Maandag hervat kan word nadat skole byna twee weke lank weens gewelddadige betogings gesluit was, het die departement van basiese onderwys gesê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het gesê daar is tydens ʼn vergadering met verskeie belanghebbendes ooreengekom op ʼn plan om op te maak vir die onderrigtyd wat verlore gegaan het nadat skoliere en onderwysers vir tien dae lank nie toegang tot hul skole gehad het nie.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het intussen verskeie kere met lede van die gemeenskap vergader in ʼn poging om ʼn oplossing vir hul ontevredenheid te vind. The Education Forum, Pastors’ Forum, skoolbeheerliggame, die National Education Collaboration Trust, tradisionele leiers en onderwysunies het ook ʼn gesamentlike besluit geneem om alles in hul vermoë te doen om onderrigdienste in die gebied te herstel, het Motshekga gesê.

Motshekga het ouers aangemoedig om sover moontlik hul kinders skool toe te vergesel en het gesê dit is noodsaaklik dat die normale onderrigprogram so gou as moontlik voortgaan. Volgens die departement is 11 hoërskole en 16 laerskole deur betogers aan die brand gesteek en beskadig, maar is 102 skole en 52 827 leerders deur die betoging geraak nadat skole tydelik gesluit moes word.

Altesaam 99 klaskamers is deur betogers beskadig en dit sal na verwagting R250 miljoen kos om die skade by al die skole te herstel. Volgens die departement word 234 mobiele klaskamers benodig om die onderrigprogram te hervat en sal 74 van die klaskamers teen die einde van die week afgelewer word. Klaskamers wat nie beskadig is nie sal steeds gebruik word.

Onderwysunies het ingestem om onderwysers te versoek om oor naweke en gedurende vakansies klas te gee om agterstallige werk in te haal. ʼn Klein hoeveelheid handboeke wat in die brande by die skole verwoes is, sal vervang word en na verwagting binne die volgende paar dae afgelewer word.

Motshekga het gesê hoewel talle leerders se rekords in die brande verwoes is, is al die data van die eerste kwartaal steeds “in die departement se stelsel” en dus nie verlore nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francis Linstrom ·

Aan die 20 jarige man wat met die vrou wat deur n by gesteek is, hospitaal toe gejaag het. Met meer van jou kan ons in vrede in SA saamleef. Jy is n ster.

E ·

Onthou net asb maats om jul sambrele saam te bring skool toe vir incase dit reën.
Daar word ook hevra dat leerders asb hul eie tafel en stoel saam abba.

Annetjie ·

Ek kan nie verstaan hoekom die belastingbetaler moet instaan vir hierdie soort van misdaad, gepleeg deur ouers van leerlinge by die skole, wat afgebrand. Word nie! Laat die wat die skole afbrand hulle hande uitsteek en begin verantwoordelikheid aanvaar vir al die skade wat hulle aanrig. Aan die 20jarige jongman, baie dankie dat jy so vinnig opgetree het, en jou menslikheid bewys het aan die vrou en haar kind. God sal jou verseker daarvoor beloon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.