Ondersoek afgehandel ná weermaglid glo Pta-vrou skiet

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Die polisie se ondersoek is afgehandel in ʼn saak van poging tot moord wat spruit uit ʼn voorval byna twee weke gelede waarin ʼn weermaglid Carine van Staden (28), ʼn inwoner van Pretoria, glo ten aanskoue van haar verloofde en motoriste in haar bors geskiet het.

Ao. Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, het Woensdag aan Maroela Media bevestig al die nodige verklarings is van getuies geneem en die volledige dossier is tans by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir beslissing. Die weermaglid is nog nie in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het vroeër berig Van Staden en haar verloofde, Johan Harmse (29), was op 10 Augustus omstreeks 18:00 van Daspoort op Harmse se BMW-motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig hulle naby Wonderboom Junction skrams getref het.

“Die voertuig, ʼn wit Audi, het weermagnommerplate gehad en ons het vasgestel die jong man wat dit bestuur het, is glo ʼn drywer vir een van die generaals,” het Van Staden se pa, Johan van Staden, vroeër gesê. “Die man het die motorfiets se voetrus getref waarop Carine se voete was en hy het toe net weggejaag,” het hy gesê.

Harmse het ʼn Go Pro-kamera aan sy valhelm gehad, dit aangeskakel en die voertuig agterna gesit.

“Die verkeerslig by die hoek van Lavenderweg en Braam Pretoriusstraat was rooi en die man moes stilhou. Carine het afgeklim en hom genader om te hoor hoekom hy weggery het. Sy het nog haar valhelm aangehad, maar dit was oop en haar gesig was sigbaar. Hy het bloot net sy deur oopgemaak en ’n pistool reguit in haar bors gedruk en haar ten aanskoue van haar verloofde en ander motoriste geskiet.”

Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Nadat Carine in die hospitaal opgeneem is, is Harmse en haar pa na die Sinoville-polisiestasie om die voorval aan te meld. Dit was sowat ʼn uur en ʼn half ná die voorval. Die weermaglid was toe reeds daar en het, aldus Van Staden, aangevoer hy het gedink Carine en haar verloofde wou sy voertuig kaap. Hy het egter nooit amptelik ʼn klag aanhangig gemaak nie.

Aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied en roekelose en nalatige bestuur teen die weermaglid aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is. Die saak is intussen na poging tot moord verander. Harmse se video is na die polisie se spesialis- tegnologiese eenheid gestuur om die beeldmateriaal af te laai en as amptelike bewys te dien.

Carine is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk goed tuis aan. “Sy ervaar nog pyn en raak vinnig moeg, maar andersins gaan dit baie goed,” het Van Staden Woensdag aan Maroela Media gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen Woensdag buite die Pretoria-Noordse landdroshof betoog teen sogenaamde dubbele standaarde waarmee hy sê rasvoorvalle in Suid-Afrika hanteer word. Die organisasie het in ʼn verklaring na Van Staden se voorval verwys en gesê hy het besluit om na dié landdroshof, waar die borgtogaansoek van die veelbesproke KFC-voorval aangehoor word, op te ruk omdat “wit-op-swart-aanvalle deurlopend aan die groot klok gehang word, terwyl swart-op-wit-aanvalle grootliks geïgnoreer word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann van Staden

En natuurlik gaan die man skotvry hiervan wegloop….soos gewoonlik…

Eish

Daar is seker normaalweg n doelmatigheid aan die klas van optogte om beswaar aan te teken, maar buiten enkele begeesterde optoggangers en verbygaande toeskouers wat kopknikkend goedkeuring verleen, is daar geen konkrete voordeel wat daaruit gespruit het nie. Ek dink ook nie dat daar in die toekoms iets positiefs sal gebeur as gevolg daarvan nie. Die Marikana slagoffers wag jare reeds vir reg en geregtigheid en ander beloftes om in vervulling te gaan. Op die keper beskou is die enigste optogte wat wel sake in n rigting gestuur het, die van studente verlede jaar en en die jaar voor dit.… Lees meer »

Wiehan

Wys jou net weer. Skiet liewers as om iemand te dreig of te klap. Skies, en jy word op waarskuwing vry gelaat, dreig of klap en jy mag noe eers borg kry nie.

Elizabeth

Dankie Afriforum, ek dink dit is tyd dat ons blankes vir eenkeer in ons lewens agter ons sleutelborde uitklim en ook voor die howe gaan betoog, ook begin dreig, ons regte terug begin neem anders gaan ons verder ondergaan! Die meerderheid vertrap en vermorsel ons, hoe kan ons dit toelaat?????

Nico

As ek uit noodweer skiet word ek aangekla en toegesluit en beslag gele op my vuurwapen wie se wapen het hy gebruik syne of staat sin het hy dan toestemming gehad