Ondersoek begin jare ná seuns se dood by waterpark

Aiden du Toit is in November 2017 by die ZambiBush-oord dood. (Foto: Verskaf)

ʼn Geregtelike ondersoek (GO) na die dood van Aiden du Toit (10) en Bohlale Mokoena (7) by die ZambiBush-waterpark in 2017, het Donderdag in die Pretoria-Noord-landdroshof begin.

Aiden se pa, Deon, en Bohlale se ma, Maggie, het op 29 November verlede jaar – presies vier jaar ná Aiden se dood – hul dagvaardings ontvang om as getuies in die ondersoek voor die hof te getuig. Die saak het Donderdag vlugtig voor die hof gedien waar dit tot 6 Mei uitgestel is.

“Ons is baie verlig dat dit uiteindelik begin het. Ná vier jaar is ons emosioneel gedaan. Ons hoop dat hierdie die eerste bladsy van die laaste hoofstuk is,” het Du Toit Vrydag aan Maroela Media gesê.

Bohlale Mokoena se liggaam is in 2017 in ‘n swembad by die ZambiBush-oord aangetref. (Foto: Best Care-ambulansdienste)

Aiden is op 29 November 2017 by dié waterpark in die noorde van Pretoria dood nadat hy sy kop op ʼn waterglybaan gestamp het.

Du Toit is al die afgelope vier jaar met sy eie ondersoek na die voorval en oord besig in die hoop om geregtigheid vir sy seun sowel as Bohlale te kry. Du Toit het destyds gesê dat hy voldoende bewyse het dat die waterpark onwettig bedryf word en gevaar vir ander kinders inhou.

Bohlale se liggaam is twee maande voor Aiden se dood in een van die swembaddens by ZambiBush aangetref – ʼn dag nadat hy as vermis aangemeld is. Mokoena het destyds aan Maroela Media gesê haar kind se dood is steeds onverklaarbaar.

Deon du Toit blaai deur ’n fotoboek van Aiden. (Foto: Mariska Nanni)

Du Toit sê die geregtelike ondersoeke na die seuns se dood sal nou as een formele ondersoek hanteer word. Die doel van die GO is om te bepaal of enigeen vir die kinders se dood aanspreeklik gehou kan word.

ZambiBush se eienaars het verlede jaar via hul regsverteenwoordigers gesê dat al die nodige veiligheidsmaatreëls by die oord getref is, en dat standaarde jaarliks deur ’n onafhanklike assessor vir veiligheidsdoeleindes beoordeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hanna ·

Ek het baie begrip vir die ouers se verlies aan hulle kinders, ek het self ‘n kind verloor, maar kan ‘n oord verantwoordelik gehou word vir ‘n ongeluk waar ‘n kind sy kop stamp?

E ·

Meeste verdrinkings is seuns tussen 8-14 dis wat ouers nie besef nie.

Swerwer ·

Die is baie emosioneel om ‘n kind te verloor, en ek voel beide ouers se pyn. Dit is ‘n groot risiko vandag om ‘n openbare instansie te besit of bedryf vandag met die nuwe wetteloosheid en gedgierigheid. Sover my kennis strek word so ‘n plek/instansie gebruik op ‘n persoon se eie risiko, en gewoonlik staan dit op ‘n bordjie by die ingang of iewers op die perseel.

Maritza ·

Ek het innige simpatie met die familie maar hofsake ens. gaan nie die kinders terug bring nie

Marius ·

Ek was self ‘n gereelde besoeker aan die oord en moet sê dit is baie netjies en dit word met groot verantwoordelikheid bestuur en oral is daar borde op wat sê dat jy die oord op eie risiko betree. Ek verstaan die ouers se hartseer maar dit is onsinning om die oord verantwoordelik te hou vir ‘n ongeluk. Daar gaan letterlik honderde, indien nie duisende, mense die oord binne. Is dit nie die ouers se plig om na hul eie kinders se veiligheid om te sien nie? Waar was die ouers toe die onlukke plaasgevind het? Vir dieselfde geld kan die ouers ook vir die afsterwe van hul kinders verantwoordelik gehou word. ‘n Saak het altyd twee kante.

Tanya ·

Ek het ook gewonder, en soos almal hier bo aan, het ek ook begrip met die ouers, maar hoe sou wettig of nie-wettig ‘n verandering gemaak het toe die kind sy kop gekap het nie, ek sou dink dis ‘n frats ongeluk. Maar Bohlale se dood is effe meer ingewikkeld, want het hy verdrink om dat hy moontlik nie kon swem nie of het die sterk stroom, filters hom onder die water gehou, ens. So dit moes behoorlik ondersoek word. Maar nie te min, my harte gaan uit na die ouers, ons is nie verondersel om ons kinders te begrawe nie.

Charllas ·

Dis tragies, maar ek dink daai oord moet kamaras opsit, ons was so paar jaar terug daar en n ou hetn bolla-makiese in die een swembad gedoen (waar die toe glybaan is) en het op iemand ander gespring, die ou het uitgeklim en verdwyn…. bystaanders het die ander persoon uitgehaal en mond tot mond asem-halling gedoen………. mense waag net te veel en kyk nie eens as daar dalk kinders is nie!
Dan agv ander se foute en nalatigheid sterf onskuldige kinders en ouers se lewe word hel binne `n paar uur………

FrikkievV ·

Meegevoel en innige simpatie. As pa kan ek my dit nie voorstel nie, wat ‘n nagmerrie, wat ‘ n hartseer storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.