Ondersoek begin na uitgelekte intelligensieverslae

Foto: Al Jazeera

Foto: Al Jazeera

David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, het Woensdag aangekondig dat daar ʼn ondersoek aan die gang is na die geheime veiligheidsdokumente wat deur die internasionale nuusagentskap Al Jazeera uitgelek is.

“Die akkuraatheid en verifikasie [van die dokumente] sal hanteer word in terme van die protokol rakende die bestuur van geklassifiseerde inligting.” Volgens Mahlobo is dit onwettig in terme van die land se klassifikasieprotokol om inligting van die aard te openbaar en ondermyn dit nasionale veiligheid.

Mahlobo het gesê hy het met kommer kennis geneem van mediaberigte oor die inhoud van geklassifiseerde intelligensieverslae wat aan internasionale intelligensie-organisasies behoort. Dit sluit in verslae van Israel se Mossad, die CIA in die VSA en Brittanje se MI6.

“Die uitlek van die dokumente met beweerde besonderhede oor die operasionele bedrywighede van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) word in die sterkste moontlike terme veroordeel.” Mahlobo het gesê die regering sal ondersoek instel na die bewerings dat sekere politici by spioenasie betrokke is.

“Die minister wil graag alle Suid-Afrikaners die versekering gee dat die Staatsveiligheidsagentskap sal voortgaan om op sy mandaat te fokus om die land en sy integriteit, sy burgers en kritiese infrastruktuur te beskerm.”

Al Jazeera is glo in besit van ʼn aantal uitgelekte geheime dokumente wat wêreldwyd hoofsaaklik tussen die SSA en ander spioenasie-agentskappe gedeel is, oor onder andere Suid-Afrika se monitering van Iranse agente. Die agentskap in samewerking met The Guardian in Engeland beplan om die inligting stuk-stuk bekend te maak in ʼn reeks genaamd The Spy Cables.

Al Jazeera berig Suid-Afrikaanse intelligensieagente het bevind dat die Iraniërs ook geïnteresseerd was in tegnologie wat gebruik word om satelliete te onderskep, aanlyn aktiwiteite waar te neem, en kuberkrakery. Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste was besorg oor Irak se pogings om amptelike en nie-amptelike kanale in Suid-Afrika te gebruik om Westerse ingestelde sanksies te omseil.

Al Jazeera besit glo ʼn verslag van 128 bladsye genaamd, Operational Target Analysis, wat deur Suid-Afrikaanse spioene saamgestel is en waarin profiele van verskeie beweerde Iranse agente gepubliseer is. Volgens die verslag het die Britse agente ook aktiwiteite van Iran in Suid-Afrika gemonitor. Die agente het ook profiele saamgestel van ʼn aantal matwinkels, uitgewers, en ander klein besighede wat moontlik bande met die Iranse intelligensie-agentskappe het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.