Ondersoek duur voort ná 30 leeus van kant gemaak is

Die DBV in Bloemfontein het 30 ondervoede, beseerde leeus op ’n Vrystaatse-teelplaas van kant gemaak. (Foto: Bloemfontein DBV)

Die Suid-Afrikaanse Roofdiervereniging (Sapa) sê ʼn ondersoek duur voort ná 30 leeus in die Glen-distrik naby Bloemfontein van kant gemaak is.

André Mentz, president van die organisasie, sê Sapa het uitgereik na die betrokke leeuteler wie se leeus twee maande gelede in ʼn veld beseer is. “Dertig van die leeus is daarna deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein van kant gemaak. Inligting oor die voorval het eers vroeg in Oktober aan die lig gekom,” het Mentz gesê.

Volgens Sapa, ʼn vrywillige lidmaatskaporganisasie vir roofdiertelers in Suid-Afrika, is daar baie gerugte oor dié tragiese voorval wat steeds ondersoek word.

“Die betrokke teler is nie ʼn lid van Sapa nie, maar ons het in elk geval ons hulp aangebied. Hy is platgeslaan oor die brand, die verlies van sy leeus en die gevolglike negatiewe mediadekking.”

Die DBV in Bloemfontein het 30 ondervoede, beseerde leeus op ’n Vrystaatse-teelplaas van kant gemaak. (Foto: Bloemfontein DBV)

Maroela Media het vroeër berig die leeus is ernstig beseer tydens verwoestende veldbrande in die omgewing, maar is glo nooit deur hul eienaars behandel of versorg nie. Die eienaars het glo ook nie enige mediese hulp vir die lydende diere ontbied nie en volgens die DBV was dit duidelik dat die diere dae laas geëet het. Reinet Meyer, ʼn senior inspekteur by die DBV, het in daardie stadium gesê die leeus se kampe was in ʼn haglike, vuil toestand. Volgens haar sou die leeus maklik kon ontsnap, maar nie een het nie, aangesien hulle te swak was.

Mentz sê die betrokke teler se weergawe van gebeure verskil van dit wat in die nuus gepubliseer is.

“Ons het vleis vir hom aangebied om vir die res van sy leeus te voer, maar hy het ons gerusgestel dat hy genoeg kos vir sy diere is. Hy het ook gesê hy sal nie huiwer om hulp te vra as hy dit nodig sou kry nie,” het Mentz bygevoeg.

Sapa sê hy bly verbind om die hoë standaarde onder roofdiertelers in Suid-Afrika te vestig en vol te hou. Die vereniging bevorder verantwoordelike teelpraktyke en verwag van sy lede om aan streng voorwaardes en standaarde te voldoen vir die etiese behandeling van hul diere.

“Ons verafsku dieremishandeling. Eers sodra die ondersoek na dié betrokke saak afgehandel is, sal ons weet of dit ʼn geval van dieremishandeling was of nie.”

Sapa het Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, skriftelik genader met ʼn voorstel dat dit verpligtend moet wees vir alle roofdiertelers om aan ʼn verteenwoordigende organisasie soos Sapa te behoort. Dit sal die regering help met behoorlike bestuur van die bedryf, inspeksie en akkreditasie van plase en polisiëring van teelaktiwiteite. “Die minister het egter nog nie op ons verskeie briewe reageer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ek wil ten hemele skree…… Neeeeeeeeeee! Indien dit waar is is dit onmenslik en wreed en moet dit ten sterkste veroordeel word. My hart is in duisend stukkies gebreek vir die arme diere en die lyding wat hul moes verduur.

Tokkel ·

Hierdie mense wat Wilde Leeus aanhou is sekerlik vir buitelanders om te kom skiet.
Covid het toe gekom en daar lei die mooiste dier agv geldgierigheid. Ek hoop ons hoor weer van die gevolge van hierdie eienaar.

FBS ·

Sal dit nie fantasties wees as die emosies wat gewys word wanneer daar geen feite is nie, maar net moontlike oortredings. Wanneer daar wel feitlike stellings gemaak word daar geen ophef gemaak
word nie. Waar is die bemoedigende woord vir Mnr. Mentz en sy organisasie wat hulle doen en wil doen.

Charl ·

So so onnodig en hartseer, kan jy jouself daardie arme diere se pyn en lyding voorstel ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.