Ondersoek duur voort ná rooftog, skietery in Pretoria

ER24 is na die veld in Waterkloof ontbied (Foto: Verskaf)

Die Gautengse polisie se ondersoek duur voort ná ʼn rooftog Woensdag by ʼn selfoonwinkel by die Atterbury Value Mart in Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig ’n jaagtog en skietery het tussen lede van ‘n privaat sekerheidsmaatskappy en vier gewapende rowers uitgebreek, nadat die rowers op die winkel toegeslaan het.  Lede van die sekerheidsmaatskappy Brinant Group het die verdagtes ‘n paar kilometer vanaf die winkelsentrum begin agternasit en tot by ‘n kompleks in Waterkloof gejaag. Hier het sekuriteitswagte en die rowers op mekaar losgebrand. Een van die rowers is in die proses raakgeskiet. Die rowers het toe deur die kompleks na die aanliggende veld gehardloop.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn onbekende man het omstreeks 10:10 die winkel betree en homself as ʼn klant voorgedoen. “Kort daarna het nog ʼn verdagte die winkel betree en een van die verkoopspersone genader. Die verdagte het ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en die personeellid na ʼn kantoor in die winkel geboender, waarna hy selfone geëis het.”

Die personeellid het sowat 20 namaaksel-selfone oorhandig wat in ʼn rugsak geplaas is. “Toe die verdagtes die winkel verlaat, het hulle vier selfone van ander personeellede afgeneem en ʼn onbekende bedrag kontant uit die kasregister gesteel.”

Toe die verdagtes uit die winkel gehardloop het, het ʼn vuurwapenmagasyn op die grond geval.

“Hulle het saam met twee ander verdagtes in ʼn silwerkleurige Toyota Corolla gespring en ʼn jaagtog het gevolg toe Brinant-sekuriteitswagte hulle agterna gesit het. ʼn Voertuig van die Garsfontein-polisie het ook by hulle aangesluit.”

Toe die konvooi Erasmuskloof bereik het, is die verdagtes afgesny en hulle het uit die voertuig geklim en op lede van Brinant-sekuriteit losgebrand. “Een van die verdagtes is in die proses noodlottig gewond,” het Masondo bygevoeg. “ʼn Soektog in bosse het beamptes na die ander drie verdagtes gelei. Een van die verdagtes het ʼn skietwond in sy bobeen opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal geneem.”

Masondo het gesê Garsfontein-polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof. Brooklyn-polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Die verdagtes is almal tussen 20 en 35 jaar oud en is van Tembisa en Johannesburg. Daar is beslag gelê op alle gesteelde eiendom en twee vuurwapens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

‘n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek, en alhoewel dit ongehoord klink, maak dit sin.

Wil ook net sê ·

Dankie ook aan SAPS! Lekker om te sien hoe die polisie en sekuriteitsmaatskappye saamstaan om die gemeenskap te beveilig en beskerm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.