Die polisie het Donderdag gesê die ondersoek duur voort nadat drie leerlinge van Laerskool Emma in Winterveldt, noordwes van Pretoria, ná pouse gesterf het.
“Ons ondersoek steeds die voorval en wag vir die uitslag,” het kapt. Kabelo Marumo, woordvoerder van die polisie, gesê.
Twee sussies, ses en agt jaar oud, en hul agtjarige maatjie is in die hospitaal oorlede nadat hulle van maagpyn en koors gekla het. Die sussies het vrugtesap en koek saamgebring skool toe en dit met die maatjie gedeel.
Die kos was vermoedelik besmet.
Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement van onderwys in Gauteng, het gesê die skool het ʼn voedingskema, maar nie een van die kinders wat van dié kos geëet het, het siek geword nie.